12 dae gelede
Klubs bly oor administrasie
Rian Oberholzer  ~ _GALLO IMAGES

DIE meeste van die klubs onder die vaandel van die Westelike Provinsie Rugbyunie glo die besluit van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) om WP onder administrasie te plaas, moes lankal gebeur het.

Volgens Taariq van der Ross, die voorsitter van die rugbyklub Gordons Bay Pioneers, was sy klub in Februarie die eerste van die sowat 90 klubs in die WP wat ’n mosie van wantroue in Zelt Marais, president van die WPRVU, ingestel het.

Van der Ross het gister aan Son gesê: “Ons verwelkom die ingryping van Saru net sodat ons ’n bietjie stabiliteit kan terugkry.

“Dinge het al ’n ruk gelede in ’n groot gemors begin ontaard. Eers het verskillende individue en groepe teen mekaar gewerk. In ’n sekere mate het dit ook ’n godsdiens-ding geword.

“Daar is baie klubs wat glo dat Saru al ’n maand gelede moes ingegryp het.

“Zelt se styl van leierskap was uiters frustrerend vir baie.

“Die enigste manier hoe ons uit die situasie kon kom, was vir Saru om in te kom om sake oor te neem. “Ek is persoonlik baie gelukkig dat dit gebeur het. Dit gee ten minste vir ons ’n kans om kop bo water te hou.

“Zelt het seker gemaak hy raak ontslae­ van die uitvoerende komitee deur hulle te skors. In die plek daarvan het hy ’n war room op die been gebring.

“Ek glo sy hele plan was net om die uitvoerende komitee te omseil. Hy het ’n groep mense bymekaargekry wat dieselfde soos hy dink.

“Die rede waarom ons in die eerste plek ’n mosie van wantroue in Zelt ingedien het, is omdat hy ’n term sheet onderteken het wat teen die mandaat van die uitvoerende komitee was. Hy het dit alles op sy eie gedoen. Dit is onaanvaarbaar in enige organisasie.”

Son het ook gister kennis geneem van sowat 10 bekommerde klubs wat die ingryping van Saru by die WP wil teenstaan.

Vergesel

Son het ook betroubaar verneem dat Rian Oberholzer, die nuwe administrateur wat deur Saru aangestel is, reeds gister by Nuweland se kantore ’n gaan besoek aflê het. Oberholzer was vergesel deur die president van Saru, Mark Alexander, sowel as Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof.

Die drie het met die personeel in die kantoor vergader om hulle gerus te stel dat Saru se ingryping nie hul werk gaan affekteer nie.

In reaksie sê Marais die beweringe deur Van der Ross is ongegrond, onakkuraat, misleidend en lasterlik.

Marais sê: “Van der Ross moet die bewyse verskaf.

"Oor die mosie van wantroue kon hy ook nie die kennisgewing van die vergadering, afskrif van resolusie of bewys van brief van die klub gee nie."

Marais bevestig wel dat Van der Ross vergaderings met hom geskeduleer het, maar op die laaste minuut gekanselleer het.

  • Hierdie artikel is aangepas met die reaksie van Zelt Marais.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters