5 maande gelede
Klopp se Reds weier om te flop
jürgen klopp Foto: reuters  ~ 

LIVERPOOL gaan nie maklik voor die druk vou van doemprofete wat nie wil hê hy moet die Engelse­ Premierliga (EPL) wen nie.

Die Reds het dit die naweek weer bewys deur Bournemouth met 3-0 stert tussen die bene terug huis toe te stuur.

Die sege beteken Liverpool­ bly nog sterk in die wedloop vir die EPL-kroon, hoewel Manchester­ City ook met ’n kanniedood-houding speel.

Jürgen Klopp, Liverpool­ se manager, en sy span is hewig gekritiseer oor hulle laas week drie waardevolle punte teen Leicester City weggegooi het.

Maar die Merseyside-span het gewys daar is nog genoeg lewe in die span en motivering om die wedloop vir die titel ’n geveg tot die bitter einde te maak.

Klopp sê hy is in sy noppies oor sy span se goeie vertoning teen Bournemouth.

Hy gee ook nie dat mense iets te sê het oor sy span se vertonings nie.

Gelukkig

“Dis vir my heeltemal normaal as mense ons uitslae en vertonings wil bespreek indien hulle nie gelukkig­ is daarmee nie,”’ het Klopp aan Sky Sports gesê.

“Ons was self nie gelukkig met ons (vorige) vertonings nie.

“Ons wou op die regte manier reageer en wys daar is nog lewe in die span. Ek is rêrig gelukkig met die vertoning.

“Ons set-pieces (vryskoppe) is weer reg. Al die doele wat ons aangeteken het, was skitterend.”

“Ons het goed verdedig en aangeval.

“Dit was ’n welverdiende oorwinning.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters