17 dae gelede
‘Klaprugby’
VEILIG: Lionel Hendricks (met das) en ander beamptes beskerm die ref, Curtley Booysen. Foto’s: ANVER ABRAHAMS  ~ 

DIE Bolandse Groot Uitdaagbeker-reeks se Top-12-wedstryd tussen Robertson Town en Roses United het toe vir meer as net goeie spel gesorg.

Nuus vanaf die Van Zylstraat Sportterrein in Robertson is dat die arme skeidsregter pak gevat het.

Dis nadat Bjorkan Hendricks se drie met speeltyd verstreke en Johnwen Lewis se doelskop ’n tight wedstryd 28-26 in Roses se guns laat eindig het.

Belowendste

Wat daarna gebeur het, is egter uiters skandalig en barbaars. Daar word beweer dat toeskouers die skeidsregter, Curtley Booysen, gevloek en ook aangerand het.

Booysen (23), ’n quantity surveyor van Caledon, is een van die belowendste skeidsregters in die Boland.

Hy is Saterdag ná afloop van die game van die veld gelei deur Lionel Hendricks, Robertson se voorsitter, en ander amptenare.

Shaun Veldsman, bekende TV-skeidsregter van Robertson, was ook op die toneel.

Hy sê aan Son: “Ek moet my hoed afhaal vir Lionel en die manne van Robertson. Hulle het Curtley regtigwaar probeer beskerm teen die oormag barbare.

“Dis ’n klomp armchair refs wat onder die invloed van alkohol was wat ’n jong ref so verneder. Daai jong man was in trane.

“Ek het hom by Lionel gevat, in ’n kar gedruk en hom na ’n plek van veilige bewaring geneem. Selfs daai kar se ruit is nou gekraak.”

Robertson Town se ondersteuners was omgekrap oor Booysen se skynbaar swak vertoning met die fluitjie. Veldsman, wat onlangs uitgetree het, sê egter Booysen het goed geblaas.

“Ek is baie tevrede met sy hantering van die spel. Niemand kry óóit ’n 100% game nie en skeidsregters is mense en mense maak foute.

“Curtley het reeds aan my gesê dat hy nou klaar is.

“Hy is ook onlangs deur baie aangesien hy sy pa aan die dood afgestaan het en dan moet hy nog die hooliganism ervaar.”

Veldsman sê voorts: “Wat hartseer is, is dat kindertjies ook agter die kar aangehardloop het. Maar dis omdat sogenaamde grootmense dit voor hulle gedoen het.

“Ek het my belt afgehaal en ek weet nie eens of ek van hulle (die kinders) raak geslaan het nie.”

Hy sê spelers, afrigters en ondersteuners moet opgevoed word oor die reëls van die spel.

“Ek is bereid om sessies aan te bied, want só kan dit wragtig nie aangaan nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters