Verlede jaar
Klagte byna afgehandel
gideon khobane Foto: gallo images  ~ 

DIE brief wat deur vier swart SuperSport-aanbieders gestuur is, word uit proporsie geblaas, het die sportuit­saaier gister gesê.

Gideon Khobane, uitvoerende hoof van SuperSport, het luidens ’n verklaring gesê die kwessie rondom vier aanbieders se klagte van rassisme is amper opgeklaar.

Die vier aanbieders wat SuperSport van rassisme aankla, is die voormalige Springbokke Owen Nkumane en Gcobani Bobo en die aanbieders Xola Ntshinga en Kaunda Ntunja.

Dié vier sê, luidens hul regsverteenwoordiging, hulle word ondermyn deur nie dieselfde salarisse as wit aanbieders en analiseerders betaal te word nie.

Hul wit kollegas word ook glo op langtermynkontrakte aangestel, terwyl sommige van hulle se kontraktermyn net vir ’n jaar is.

Luidens dié vier aanbieders se regsverteenwoordiging doen hulle ook die meeste werk vir ’n laer verdienste. Dít grens glo aan rassisme.

Khobane en SuperSport hou vol dat geen rassisme betrokke is nie.

“Ons het die prokureur se brief geruime tyd gelede ontvang,” het Khobane in die verklaring gesê. “Ons het tesame met die aanbieders saamgestem om die voorval te ondersoek en oplossings vir die onderliggende kwessies te vind.”

Nkumane, wat namens die vier aanbieders gepraat het, sê: “Ons is gelukkig oor hoe die hele proses deur SuperSport hanteer word. Ons het ons doel bereik om ’n goeie samewerkende omgewing by SuperSport te handhaaf.”

Intussen is die Ashwin Willemse-sage van SuperSport nog nie afgehandel nie.

Willemse gaan hom na die gelykheidshof wend om sy beskuldigings van rassisme teenoor Nick Mallett en Naas Botha op te klaar.

Willemse het tydens die Superrugby-wedstryd tussen die Lions en die Brumbies kwaad uit die ateljee gestap. Die oud-Springbok het toe gesê hy word deur Mallett en Botha ondermyn en dat hy nie meer met spelers uit die apartheidsera kan saamwerk nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters