2 maande gelede
Kiwi’s foster ’n grudge ná misoes
Ian Foster  ~ Getty Images

FANATIESE Nieu-Seelandse rugbyondersteuners eis Ian Foster, die All Black-afrigter, se kop.

Die All Blacks se historiese nederlaag met 15-25 Saterdag teen die Poemas in Australië is seker die grootse laagtepunt in die geskiedenis van Nieu-Seelandse rugby.

Dit was die eerste keer in 30 probeerslae dat Argentinië die magtige All Blacks geklop het.

’n Laat drie deur die kragtige vleuel Caleb Clarke het die Kiwi’s se agterstand na 10 punte laat krimp, wat die eindtelling nie so sleg laat lyk nie.

Selfs die Kiwi’s se kommentators moes toegee dat die vernedering beslis nie ’n gelukskoot van die Argentyne was nie.

Almal was dit eens dat ’n baie beter span die manne in swart op die dag ore aangesit het.

Die manne van Suid-Amerika het met meer passie, dringendheid en vaardigheid gespeel.

Verdediging

Mario Ledesma (afrigter) se span se het in ál die aspekte van die spel oorheers.

Dit was veral die kaptein, Pablo Matera, wat die afbreekpunte heeltemal oorheers het.

Die Argentyne se verdediging was ook uit die boonste rakke.

Dít alles van ’n span wat sedert laas jaar se World Cup in Japan nog nie ’n toets gespeel het nie.

Ledesma en van die Argentynse spelers is positief getoets vir die corona-virus. Hulle was sowat ’n maand onder kwarantyn – eers in Argentinië en toe in Australië.

Daarteenoor het die All Blacks se spelers ’n volle Superrugby Aotearoa-kompetisie agter die blad gehad.

Voor die kragmeting met die Poemas het Foster die luuksheid gehad om sy span in vier toetse voor te berei en verskillende kombinasies op die proef te stel.

Foster het ’n kontrak van twee jaar met die Nieu-Seelandse Rugbyunie gesluit.

Maar Sedert hy die leisels oorgeneem het by sy voorganger, Steve Hansen, het die magtige manne in swart net twee oorwinnings uit vyf wedstryde behaal.

Kenners in Nieu-Seeland beskou Saterdag se vertoning van die All Blacks ongetwyfeld as die swakste van die moderne era – dit wil sê sedert die spel in 1996 professioneel geword het.

Knou

Die Poemas kom Saterdag in die McDonald Jones-sta­dion in Newcastle teen die Wallabies te staan.

’n Week later kry die All Blacks in dieselfde stadion ’n kans om sake met die Poemas reg te stel.

Maar dit maak nie saak wát die uitslag van dié wedstryd gaan wees nie. Met twee agtereenvolgende nederlae het die All Blacks se reputasie as die beste rugbyspan in die wêreld reeds ’n geweldige knou weg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters