11 dae gelede
Kings soek fokus
Vories moet beter: Stephan de Wit van die Kings probeer grond wen met Jack Dixon van die Dragons aan sy been. Foto: Gallo Images  ~ 

BETER besluitneming is dié week die Southern Kings se wagwoord.

Deon Davids, breier, sê hy is glad nie opgemaak met hoe sy Pro14-span die naweek ’n terugveg-oorwinning loop wegsmyt het nie.

Die Dragons het die Kings met 27-22 in Newport se Rodney Parade-stadion geklop.

Die rede vir Davids se ontevredenheid is die verspot maklike wendrie wat sy spelers basies op ’n skinkbord aan die Dragons gegee het.

Yaw Penxe het ’n uiltjie geknip onder ’n hoë hangskop. Die bal het toe knussies geland in die veilige hande van Aaron Wainwright, wat regdeur genael het vir sy span se derde drie.

“Ons het baie swak gedoen teen die Dragons en daarom sal ons in die week hard moet werk om dit te verbeter,” sê hy.

Die Kings se kaptein en haker, Michael Willemse, kan maar net saamstem.

“Ons swak begin was weens ons slegte besluite. Ons moet dié week probeer om die klein foute uit te skakel,” sê Willemse.

Haakplekke

Al voel Davids daai drie was die grootste faktore wat hulle die wedstryd gekos het, was daar ook baie ander hakplekke – veral in die vaste fasette.

Hy sê die voorspelers sal Sondag hulle kant moet bring wanneer Ulster in die Nelson Mandelabaai-stadion besoek aflê.

“Ons het ook swak gevaar in die skrums en lynstane. In die eerste helfte was daar amper nie ’n skrum wat nie op die grond geëindig het nie.

“Ek weet ons het ’n pak voorspelers wat beter as in die afgelope twee wedstryde kan doen.”

Willemse sê hy is trots op hoe die span nooit ophou probeer het nie.

“Ons het gewys ons kán dinge bymekaarsit.

“Maar ons sal minder strafskoppe moet afstaan. Dit het ons momentum by tye gestop en ons kan dit nie bekostig nie.”

Willemse sê die span sien daarna uit om tuis te speel ná hulle toer van twee weke.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters