15 dae gelede
Kings, ruk reg!
haastig: Die Kings se Yaw Penxe weet waar die doellyn is.Foto: gallo images  ~ 

DIE Southern Kings sal môre heelwat beter moet speel as wat hulle die naweek teen Zebre in Parma, Italië, gespeel het.

Die Oos-Kapenaars speel teen die Dragons op Rodney Parade in Newport, Wallis, in hulle tweede Pro14-wedstryd van die seisoen.

Die Kings is met 32-16 afgestof deur Zebre­. Hulle het laas seisoen net 1 van 21 wedstryde gewen.

As die Kings nie verbeter op hulle vertoning teen Zebre­ nie, is dit moeilik om te sien hoe hulle op daardie swak rekord sal verbeter.

Die Kings se breier, Deon Davids, kort spelers soos Lionel­ Cronjé, wat ver­antwoordelikheid aanvaar het vir hul spel en die peil daarvan.

Cronjé is lankal nie meer met die Kings nie, maar daar is genoeg gesoute spelers wat leiding in dié opsig kan bied.

Die Kings maak eers vandag hul span bekend, maar aangesien daar min beseerdes is, sal Davids heel moontlik weinig daaraan torring.

Manne soos die kaptein, Michael Willemse (haker), en Schalk Ferreira (stut) sal byna sekerlik daarby ingesluit word.

Willemse speel goed, maar as kaptein sal hy sy stem nóg dikker moet maak teenoor party spelers oor hulle swak dissipline.

Bobby de Wee (slot) is een van die Kings se beste spelers­, maar hy was laas week een van die sondaars.

Die woelige Andisa Ntsila (flank) het die Springbok A-groep saam met Lionel Cronjé gehaal.

Ntsila was op die plaasvervangerbank, maar is ’n baie goeie kandidaat vir die beginspan.

In die agterlyn het die giftige Yaw Penxe (vleuel) en Michael Botha (heelagter) gewys watter­ bedreiging hulle vir opponente kan wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters