16 dae gelede
‘Kings móét nou wen’
prooi: ’n Swerm Kings sak toe op Tommaso Castello van Zebre.FOTO verskaf  ~ 

DIS nie net doom en gloom vir die Southern Kings nie, sê die voormalige breier van die Oostelike Provinsie, Rob Kempson.

Dis nadat die Kings se tweede Pro14-veldtog Vrydag­aand met ’n nederlaag begin het. Zebre het hulle in Parma in Italië met 32-16 geklop.

Kempson sê ’n mens moet onthou dat die groep on­gelukkig weer nie ’n ideale aanloop tot die kompetisie gehad het nie.

Hy sê: “Hulle het nou wel lank voor die tyd begin oefen, maar almal weet dat die franchise nie stabiel genoeg is nie.

“Deon (Davids, afrigter) het nie geweet of spelers kom of gaan nie, en dan was daar nog verwikkelinge net voor die afskop ook.”

Kempson meen die spelers word onderwerp aan te veel onnodige kwessies wat hulle aandag van die spel aflei.

Hy sê as hulle net op hulle spel hoef te konsentreer, sou hulle baie beter begin het.

Kempson sê afrigters word altyd eerste afgeslag, maar dié is ook net in ’n mate verantwoordelik vir die spelers se spelpeil.

Hy meen van die spelers kan gerus meer krities oor hul eie spel wees om die peil daarvan te lig.

Hy loof egter: “Van die jonger spelers, soos die plaasvervangers Luphumlo Mguca en Elandré van Rooyen, het goed gevaar in die skrums.”

Ervaring

Kempson reken ook dit sou gehelp het as die span ’n opwarmingswedstryd gespeel het.

Hy sê: “Deon het ’n speler soos Bjorn Basson, en dis ’n man met ervaring.

“Hy moet hom benut, maar omdat hulle nie ’n op­warmings­wedstryd gespeel het nie, is dit moeilik om te sê.”

Kempson meen die Kings het ’n opwindende agterlyn, maar dit sal ’n ruk duur vir die spelers om Davids se wedstrydplan uit te voer.

Hy sê: “In spelers soos Yaw Penxe en Michael Botha het Davids giftige aanvallers, maar as hulle balbesit nie kan behou nie, help dit nie veel nie.”

Kempson voel die Kings moes hul eerste wedstryd gewen het, aangesien die opponent nie so gedug is nie.

Hy voel dieselfde oor hul volgende opponent, die Dragons in Newport, Wallis.

Volg Werner Wippenaar op Twitter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters