14 dae gelede
Kings het ‘groot planne’ vir wedstryd teen Ulster
VOL HOOP: Vuyo Zangqa, die hulpafrigter van die Kings, glo die Baaienaars kan die naweek wen.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Southern Kings wil met ’n oorwinning agter die blad op hulle vier weke lange Pro14-toer oorsee gaan.

Dit beteken Ulster is Saterdag in die Nelson Mandelabaai Stadion in die Kings se visier.

Die Kings se hulpafrigter, Vuyo Zangqa, sê hulle missie is om oorsee te gaan met hulle eerste oorwinning in die toernooi agter die rug.

Hy praat nou wel groot, maar hy reken hulle het verbeter en was tot dusver weer baie ongelukkig om in hulle eerste twee wedstryde vas te val.

Zangqa sê die gevoel in die kamp is hulle is baie naby ’n oorwinning.

Dit ook veral nadat die Cheetahs die naweek met 63-28 met Ulster afgereken het.

Foute

“Die Cheetahs se oorwinning gee ons ’n bietjie hoop, maar meestal weet ons ons kan omdat ons in ons vorige wedstryde baie naby was.”

Die Kings het hulle eerste wedstryd net-net met 27-31 teen Cardiff verloor.

“Ons het ’n paar foute om reg te maak, maar voel tog ons groot oomblik is net om die draai. As ons met ’n oorwinning agter die blad op toer gaan, sal dit ons ’n verdere hupstoot gee.”

Zangqa sê wel net omdat die Cheetahs Ulster geklop het, beteken dit nie Saterdag gaan ’n maklike wedstryd wees nie.

“Dit is ’n bietjie onseker wat Ulster sal maak.

“Hulle hardloop gewoonlik baie met die bal, maar teen die Cheetahs het hulle ’n ander plan gehad.

“Daarom wil ons ook eers daarop fokus om ons self gereed te kry, as om te veel oor hulle spel te worry.”

Hy sê ’n paar veranderings kan aangebring word.

“Om die waarheid te sê ons wil eintlik soveel moontlik momentum met die huidige spelers in die beginspan bou. Maar ons wil bou vir die komende toer. So, daar kan ’n paar veranderings teen Ulster wees.

“Of veranderinge ’n goeie of ’n slegte ding gaan wees, sal ons net Saterdag uitvind.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters