8 dae gelede
Keegan bereik sy groot droom
Keegan Petersen  ~ Gallo Images

KEEGAN Petersen het nooit die provinsiale A-spanne op o. 11- en o. 13-vlak gehaal nie en in sy o. 15-jaar nie eens die B-span nie, maar dit het nie sy pa, Dirkie, verhoed om elke dag “duisende” balle na sy seun te gooi nie.

KP, soos Petersen bekendstaan, het gister in St. Lucia sy toetsdebuut vir die Proteas teen die Wes-Indiese Eilande gemaak. Hy is sedert die einde van 2019 in die Suid-Afrikaanse toetsgroep, maar moes sedertdien nog net koeldrankies aandra en ’n bietjie veldwerk doen.

Petersen se trotse pa, Dirkie, het gister aan Son erken dat die senuwees maar knaag voor KP se langverwagte debuut.

“Dis vir ons as gesin ’n baie opwindende tyd,” het Dirkie, ’n onderwyser by New Orleans Sekondêr, gesê. “Dis ook vir ons ’n baie emosionele tyd. Sy vrou (Kailynne) het juis vanoggend vir my ’n boodskap gestuur en gesê: ‘Pa, dit gaan vanmiddag ’n tranedal wees.’

“Vanmiddag word hy amptelik ’n Protea en dis nogal ’n groot ding vir die familie. Ons familie gaan vanmiddag by ons huis saamtrek en dan gaan dit seker een groot tranedal wees,” het hy laggend gesê.

Die lopies het vrylik van KP se kolf gevloei sedert hy die Cobras verlaat het – eers by die Knights in Bloemfontein en daarna by die Dolphins in Durban.

Dirkie onthou egter ’n tyd toe dit nie goed gegaan het nie.

“My skouers is al af van al die throwdowns – al van kleins af. Ek het letterlik duisende balle elke dag na hom gegooi. Sy ma het ook selfs throwdowns gegooi.

“Keegan het ook nie altyd die spanne gehaal nie. Hy moes maar sy weg oop kolf. Hy het egter nooit daaroor gemoan nie, net elke keer my weer saam hom nette toe gesleep. Vandag is hy ’n Protea.”

TROTS: Keegan en sy pa, Dirkie Petersen, glimlag breed. Foto: Verskaf

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters