5 dae gelede
Kearney is klaar met top-rugby
Rob Kearney  ~ Getty Images

EEN van die beste Ierse heelagters het besluit om sy rugbystewels op te hang.

En Rob Kearney kon nie vir ’n beter slotsom tot sy rugbyloopbaan gevra het nie. Hy gaan eerskomende naweek een laaste keer op ’n rugbyveld uitdraf.

Dit is wanneer die Britse Barbarians in ’n vriendskaplike wedstryd teen Samoa op Twickenham in Londen te staan kom.

Die 35-jarige speler, wat die jaar nog Superrugby vir die Western Force gespeel het, het die nuus oor sy uittrede op Twitter gebreek.

Kwarteindronde

Kearney sê: “Dit was nog altyd een van my drome om vir die Barbarians te speel, en wat ’n historiese span is dit nie om jou laaste wedstryd voor te speel nie. Ek is dankbaar vir dié geleentheid.”

Kearney het sy laaste toets vir Ierland in 2019 se World Cup in Japan gespeel. Die Iere is in die kwarteindronde deur die All Blacks uitgeskakel is.

In sy toetsloopbaan het Kearney 95 keer vir die Iere uitgedraf en het vier keer die Sesnasies-kroon gewen en op twee toere (2009 en 2013) saam met die Britse en Ierse Leeus gegaan.

Hy het 219 keer vir Leinster klubrugby gespeel en ses liga-titels en vier Europese bekers gewen.

Hy het vroeër vanjaar vir die Force in Superrugby AU en die Trans Tasman-kompetisie teen Nieu-Seelandse spanne gespeel. Hy het op sy terugkeer na Ierland vir die Cooley Kickhams in amateur-klubrugby gaan speel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters