Verlede maand
Kavaliers oorgehaal vir ‘kwarteind’
Thurlow Marsh  ~ Mark Ward

DIE Boland-Kavaliers se voorbereiding vir hul “kwarteindstryd” teen die Griffons het glad verloop.

Dié twee spanne raak môre in die Curriebeker se Eerste Liga slaags. Albei sal poog om met ’n sege ’n tuishalfeindstryd te verseker.

Randall Modiba, Kavaliers-hoofafrigter, se manne kan met ’n bonuspuntsege ’n tuishalfeindstryd verseker, mits die Griffons nie ’n punt uit die wedstryd kry nie.

As die Kavaliers egter verloor, sal hulle waarskynlik in die derde of vierde plek op die punteleer eindig. Hulle sal dan óf na Potchefstroom óf weer na Welkom moet reis vir die halfeindstryd.

Daar bestaan ook ’n wiskundige kans dat Boland nié in die topvier kan eindig nie. Dis nou as hulle teen die Griffons verloor sonder om ’n punt uit die stryd te kry. Die Valke moet dan hul wedstryd teen die Oostelike Provinsie wen, terwyl die Grens- Bulldogs ’n enorme bonuspuntsege oor die Luiperds in Potchefstroom moet behaal.

Toekoms

Thurlow Marsh, die Kavaliers se kaptein, sê sy span fokus net op die taak wat hulle moet verrig.

Hy sê: “Ons het ’n baie goeie week van voorbereiding agter die blad. Ons weet ons kan niks aan die verlede doen nie en daarom spits ons ál ons aandag op die hede en ons onmiddellike toekoms toe.

“Ons beheer wat ons kan. My span is gereed om als te gaan loslaat in Welkom. Ons fokus daarop om ’n oorwinning teen die Griffons te kry en dan hopelik om hulle punteloos ook te laat. Ons sien dit as ’n kwarteindstryd en is oorgehaal vir die stryd.”

BOLAND: Garrick Mat­theus, Dylan Maart, Bjorkan Hendricks, Wilneth Engelbrecht, Cleve Malgas, John Lourens, Deon Cars­tens, Emile Booysen, Thurlow Marsh (k), Taine-Ran­dall Booysen, Marlyn Wil­liams, Ameer Hendricks, Wayrin Losper, Kelvin Fikster, Kaydin Kiewiet. BANK: Curtley Cedras, Lucian Cupido, Jovelian de Koker, Niven Langdown, Albert du Plessis, Nicholas Duhwa, Angelo Rossouw, Godwin Mangenje.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters