3 maande gelede
Kavaliers moet lig loop vir Elias
GEVAARMAN: Martin Elias van die Jaguares XV. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Boland-Kavaliers sal moet waak teen die skopstewel van die Jaguares XV se Martin Elias.

Die jong heelagter van die Argentyne het verlede week teen die Griffons ses van sy span se sewe drieë verdoel.

Hy was ook met ’n strafskop in die kol.

Elias was een van sy span se uitblinkers in die span se debuutwedstryd in die Eerste Liga van die Curriebeker-reeks.

Die Suid-Amerikaners het in Potchefstroom nes geskop vir die reeks. Hulle het die Griffons met 50-43 geklop.

Die Jaguares se skrumskakel, Gregorio del Prete, het ook twee keer in die kragmeting gaan druk.

Dit is duidelik die Jaguares gaan hardlooprugby speel.

Dít kan die Bolanders se spoedvrate soos Valentino Wellman (linkervleuel) en Warren Williams (regtervleuel) goed pas.

Wellman is nou met ’n driekuns ná een wedstryd die voorste driedrukker.

Ná een wedstryd is Wellman en Elias met 15 punte elk die voorste puntemakers.

Wil­liams hou seker die rekord in die kompetisie vir die vinnigste drie. Hy het een minuut ná die afskop Saterdag teen die Grens-Bulldogs in Montagu gaan druk.

Die Bolanders moes egter diep delf om die wedstryd te wen en is veral by die afbreekpunte deur die Grens oorheers.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters