Verlede maand
Kapenaars skiet kort
DJY'S LASTIG! Kegan Johannes (nr. 27) van Ajax probeer Dillon Goss van Mbombela United afskud in hul NFD-wedstryd. Ajax het met 3-0 gewen.  ~ BackpagePix

AJAX Cape Town het weer te kort geskiet in die Nasionale Eerste Liga (NFD) – eina!

Nou moet die Kaapse span staat maak op die play-offs van die promosie-relegasiestryd om weer te probeer vir deelname aan die Premier-sokkerliga (PSL).

Dis omdat Calvin Marlin (breier) se troepe ’n voorsprong van nege punte en die NFD-titel dié seisoen weggesmyt het.

Gister se sege van 3-0 oor Mbo­mbela United in die Rand-stadion was ’n kwessie van too little too late.

Dis egter Brandon Truter (coach) se Swallows FC-span wat die NFD-kam­pioen is en promosie tot die PSL gewen het.

Dis nadat Swallows die derde geplaaste Tshakhuma Tsha Madzivhandila (TTM) gister in die Makhulong-stadion met 3-0 in hul laaste wedstryd van die seisoen gestuit het.

Die Birds het die NFD-titel danksy ’n beter doeleverskil onder Ajax, wat as naaswenner uitgetree het, se neus weggeraap.

Swallows vervang Polo­kwane City, wat gerelegeer word omdat hy laaste geëindig het in die PSL.

Die Urban Warriors moes Mbombela met ’n doeleverskil van plus vier gewen het en hoop dat Swallows ook nie ’n weghol-sege oor TTM behaal nie.

Maar alles waarvoor Ajax nie gehoop het nie, het wel gebeur – en dis sy eie skuld.

Ajax en TTM sal nou vol afwagting wees oor wie van Baroka, Black Leopards en AmaZulu hulle in die play-offs moet pak.

Die uitspeelreeks is ’n round robin van ses wedstryde waarin die drie spanne mekaar elk twee keer pak.

Daar is ook min vertroosting vir Ajax se doelevraat, Abednego Mosiatlhaga, wat die NFD se Golden Boot-toekenning gewen het vir sy 18 doele dié seisoen.

Mosiatlhaga was gister weer in die kol.

Corona-virus

Alle krediet moet gaan aan Truter omdat hy ’n gemiddelde span in ’n kam­pioen-span omskep het.

Truter se span is ook hard getref gedurende die lockdown toe ses van die spelers in sy groep positief getoets is vir die gevaarlike corona-virus.

Die Birds het egter ware karakter getoon deur nie tou op te gooi nie.

Hulle het in ’n stadium ’n agterstand van 10 punte uitgewis, en dis te danke aan Truter se vernuf as coach.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel