8 dae gelede
Kans wink vir stut
Leon Lyons  ~ Gallo Images

STADE Français wil graag met ’n leenooreenkoms die dienste van ’n stut van die Stormers bekom.

John Dobson, die Stormers se coach, het gister aan Son die nuus bevestig dat die Franse Top14-klub ’n leemte in die voorry het.

Die Kapenaars gaan in hierdie stadium egter nie ’n losskakel in ruil vir ’n stut kry nie.

Gonzalo Quesada, afrigter van Stade Français, het hulp broodnodig om sy spens in die voorry te versterk.

Die 46-jarige voormalige losskakel van Argentinië onderhandel tans met Dobson daaroor om ’n sterk voorryman as ’n “medical joker” aan die span van Parys te leen.

Kans

Dobson het gister gesê: “Ja, dis waar. Ons gaan egter nie ’n nr. 10 by hulle leen nie.

“Ons wil eers spelers soos Kade Wolhuter, Abner van Reenen en Chris Schreuder ’n kans gee.”

Quesada se eerste keuse was om die hoogaangeskrewe Springbok-loskopstut Steven Kitshoff te kry om sy span te kom uithelp.

Kitshoff word tans as een van die voorste loskopstutte in die wêreld beskou.

Die rooikop is egter in die binnebaan om by Siya Kolisi oor te neem as kaptein van die Stormers.

Drie voorrymanne, Ali Vermaak, Leon Lyons en Neethling Fouché, was op die kortlys om na Frankryk te reis.

Vermaak se vrou het pas ’n baba gehad. Hy is dus as gevolg van familieverpligtinge nie beskikbaar nie.

In hierdie stadium lyk dit of Lyons die beste opsie sal wees om waardevolle ervaring in die Franse Top-14-liga te gaan opdoen voordat die Stormers aan die Pro16-reeks deelneem.

Die 22-jarige oudleerder van die hoërskool Selborne College in Oos-Londen het tot dusver net in een game op senior vlak vir die WP uitgedraf.

Hy het nog nie sy debuut vir die Stormers gemaak nie.

Sak

Die ander opsie is natuurlik Fouché. Die 28-jarige vaskopstut het reeds vir die Blou Bulle, die Cheetahs en die Stormers uitgedraf.

Fouché gaan Saterdag in die Cape Town Stadium saam met Vermaak vir die Kapenaars in die voorry sak in hul stryd teen die Vrystaters.

Die uitruil van spelers tussen die Stormers en Stade Français is glo die eerste stap in ’n beplande vennootskap waarvolgens die Stade Jean-Bouin voortaan as die Stormers se tuiste tydens die Pro-16-kompetisie gaan dien.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters