2 maande gelede
Kans vir Kings om pap te skep
IN DIE WILDERNIS? Jamba Ulengo is dalk een van dié wat ’n ander tuiste sal moet soek.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE nuus dat die Blou Bulle meer as 100 spelers aan die einde van die seisoen van hulle kontrakte gaan vrystel, kan vir die Southern Kings soos manna uit die hemel wees.

Die Bulle se direkteur van rugby, Alan Zondagh, sê dié getal spelers is oortollig in die unie se nuwe strukture wat in die vooruitsig gestel word.

Die meer as 100 senior en junior spelers sal dus aanstaande seisoen nuwe tuistes moet kry.

Dít is waar die Kings en die Cheetahs hulle kanse moet gebruik om versterkings te bekom.

Dit gaan die twee onderskeie afrigters, Deon Davids (Kings) en Franco Smith (Cheetahs), dus loon om vroegtydig by Zondagh te hoor wie die spelers is wat moontlik hulle kontrakte gaan verloor.

Die 202 spelers wat tans by die Bulle gekontrakteer is en van wie 22 by Tukkies is, is die gevolg van die voormalige hoëprestasie-bestuurder Xander Janse van Rensburg wat in sy termyn op Loftus links en regs kontrakte uitgedeel het.

Keur

Zondagh sê die Bulle se gekontrakteerde spelers sal net sowat 80 in 2020 wees.

Dit is nie moontlik om te sê wie die Bulle se keur vorentoe gaan wees nie.

Maar die Springbok- vleuel Jamba Ulengo kan dalk net in die mark wees noudat Rosko Specman, Cornal Hendricks, Duncan Matthews, Jade Stiglingh en Travis Ismaiel voor in die ry staan.

Die haker Edgar Marutlulle, wat ’n paar seisoene ge­lede skitterend vir die Kings gespeel het, kan dalk ook onder die valbyl beland.

In die Baai het hy hom met sy aggressiewe storm­lope as een van Suid-Afrika se voorste hakers bewys, maar nie werklik tot sy reg gekom in Pretoria nie.

Die Kings se nuwe eienaars en Davids het dus heelwat huiswerk om te doen. Hulle sal moet spring om seker te maak die voorste “oud-Bulle” word nie onder hulle neuse Bloemfontein toe gelok nie.

Die Kings kan nie in 2020 nog ’n powere seisoen in die Pro14-reeks bekostig nie.

Die Kings se ondersteuners smag weer na die sukses van Lionel Cronjé se span wat toeskouers in groot getalle stadion toe gelok het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters