2 maande gelede
Kane behaal 150ste doel in Baggies-sege
Harry Kane  ~ Reuters

HARRY Kane het Sondag nóg ’n mylpaal bereik.

Dié talisman-kaptein van Tottenham Hotspurs het in die doodsnikke teen West Bromwich Albion sukses behaal met sy 150ste doel in die Premierliga.

Dit het Spurs ’n sege van 1-0 oor West Brom op The Hawthorns besorg.

Die 28-jarige Kane het Donderdag teen Ludogorets in ’n Europa League-stryd ook sy 200ste doel in net 300 wedstryde (in alle kompetisies) vir sy klub aange­teken.

Rekord

Hy is derde op Spurs se algehele lys van doelskieters en deel die 10de posisie van die Premierliga se top-strikers.

Kane sal waarskynlik die Premierliga se voorste striker van alle tye, Alan Shearer (260 doele), se rekord in sy visier hê terwyl die tyd nog aan sy kant is.

Gister teen West Brom was Spurs egter power in die eerste helfte en moes tevrede wees met ’n gelykop telling van 0-0 toe die spanne in die rustyd gaan water drink het.

Die Lilywhites, soos Spurs genoem word, het in die tweede helfte opgeskerp en meer geesdrif getoon.

Dit was veral spelers soos Reguilón, Son Heung-min, Giovani Lo Celso en Carlos Vinícius wat goeie kanse op die aanval geskep het, maar hulle kon weens die tuisspan se hardnekkige verdediging nie ’n deurbraak maak nie.

Beweging

Die Baggies, soos West Brom genoem word, het egter laat in die wedstryd fokus verloor.

West Brom se defence het nie Kane se beweging in die doelgebied opgemerk nie.

Kane het in die 88ste minuut Matt Doherty se dwarsaangee in die doelgebied verdoel deur die bal met sy kop verby West Brom se goalie, Sam Johnstone, te stuur.

Spurs is nou onoorwonne ná vyf wedstryde. Dit sluit in vier seges en een gelykopuitslag.

Dit wil voorkom asof José Mourinho (manager) stadig maar seker besig is om sy stempel af te druk en sy towerstaf te swaai. AP

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters