13 dae gelede
‘Kaka’ wil sy loopbaan weer op koers kry
Nazier “Kaka” Jacobs  ~ Foto Verskaf

NAZIER “Kaka” Jacobs is vasbeslote om sy sokkerloopbaan weer op koers te kry.

Dié 31-jarige midfielder, wat by die amateurklub Wesley United begin het, het ná sy skuif na Milano United die talk of the town geword.

Hy was danksy sy passing ability en visie op die veld die Eazy My Kinnes se generaal in die enjinkamer.

Daar was nogal groot belangstelling van klubs buite die land, maar dit was Polo­kwane City, met invloed van Boebie Solomons, wat sy dienste opgeraap en hom sy eerste beroepskontrak aangebied het.

Ongelukkig het Jacobs se loopbaan by Rise and Shine weens knaende beserings nie aan verwagtinge voldoen nie.

In 2016 was Jacobs in ’n motorongeluk betrokke, waarna hy gesukkel het om sy loopbaan in Polokwane weer op dreef te kry.

Met sy terugkeer na die Kaap het hy onder die wakende oog van George Dearnaley en David Kannemeyer vir The Magic in die Tweede Liga uitgedraf.

Beperkinge

Net toe Jacobs sy peil herwin, het The Magic talle veranderinge ondergaan omdat hy met Norway Parks saamgesmelt het.

Jacobs en ander spelers was in daardie stadium dus in limbo oor hul toekoms.

Sedertdien is hy nie by ’n klub nie. Met die corona-virus-verwante beperkinge bly hy maar op sy eie fiks.

Volgens Jacobs het hy weer voelers uitgesteek met die hoop dat hy binnekort ’n klub sal vind waar hy kan speel.

“Ek moet eerlik wees, dis nogal moeilik wanneer jy nie ’n agent het nie,” sê Jacobs.

“Boonop het die meerderheid spanne reeds met hul pre-season begin.

“Dit maak dinge nog meer challenging.

“Persoonlik voel ek dat ek nog skop in my het en ek kan nog waarde toevoeg, maar ek sal eers by ’n First Division- of PSL-klub die geleentheid moet kry, want ek wil nie in die laer ligas speel nie.

“Ek verwag om binne die volgende paar dae met ’n agent kontak te maak om my te help, so, ek behoort binnekort meer duidelikheid oor die situasie te hê.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters