12 dae gelede
Kaapse trio veg om oorlewing in NFD
TYD VIR VINGERTREK: Cape Town Spurs moet teen wil en dank begin punte insamel.  ~ Backpagepix

CAPE Town Spurs is deeglik bewus dat die uurglas vinnig uitloop om sy Eersteliga-status te behou.

Die span van Parow het laas week ook twee nuwe besems aangestel – Dylan Deane en Nasief Morris. Dit is hul job om Spurs se sinkende skip te probeer red.

Saterdag se nederlaag met 0-1 teen Polokwane City in die Peter Mokaba-stadion was beslis glad nie die ideale vuurdoop vir Deane en Morris nie.

Ironies genoeg het Spurs steeds uit die tweede laaste posisie op die punteleer geskuif.

Dít omdat Steenberg, die ander Kaapse span wat deur relegasie in die gesig gestaar word, ook in sy vorige wedstryd drooggemaak het.

Benewens Roger de Sá (breier) se Cape Umoya United, wat stewig geplaas is in die vyfde posisie, is Cape Town All Stars, Spurs (albei 29 punte) en Steenberg (27 punte) in ’n stryd om oorlewing in die sogenaamde graveyard-liga.

Reis

Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat een van dié drie, wat onderskeidelik die 13de, 14de en 15 posisie beklee, hul status sal kwyt wees vir volgende seisoen.

Spurs weet daar is nie tyd om wonde te lek nie. Hy pak Real Kings vandag op Parow Park, terwyl Stars in ’n wegwedstryd teen die laaste geplaaste Bizana Pondo Chiefs te staan kom.

Mike Lukhubeni (afrigter) se Steenberg United reis na die Vrystaat vir ’n tricky stryd teen Free State Stars.

Die gesukkel is ook ’n aanduiding hoe sokker in die Moederstad agteruitboer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters