CLIVE Woodward, voormalige rugbyafrigter van Engeland en die Britse en Ierse Leeus, glo Jonny Wilkinson was ’n meer afgeronde losskakel as Dan Carter.
Woodward is een van die bekendes in internasionale rugby wat oor die naweek hulde aan Carter gebring het.
Carter, ’n tweemalige Wêreldbekerwenner met Nieu-Seeland se All Blacks het oor die naweek aangekondig hy is klaar met alle vorme van rugby speel.
Carter het in 2015 se WB-eindstryd sy laaste toets vir die All Blacks gespeel, waarna hy in Frankryk en Japan klubrugby gaan speel het.
Hy het ook ’n korttermynkontrak met die Blues gesluit om in laas jaar se Superrugby Aotearoa-kompetisie te speel. Weens omstandighede het Carter egter nooit dié span verteenwoordig nie.
Carter is steeds die voorste puntemaker in toetsrugby met 1 598 punte.
Keuse
Hoewel Wilkinson 250 punte minder as die Kiwi aangeteken het, is hy volgens Woodward beter.
Die 65-jarige Woodward het in sy rubriek in Daily Mail geskryf: “Dis amper ’n onmoontlike keuse. Hulle was, met ’n groot gaping, die twee beste losskakels van hul era – albei toevallig ook natuurlike linkerpote.
“Ek sal Jonny en Dan as gelyk beskou as dit kom by skopwerk pale toe kom. Dan was beter as ’n aanvallende 10, terwyl Jonny by verre die beste verdedigende 10 was.
“As ek móét kies, sal ek Jonny kies. Ek was gelukkig genoeg om hom ses jaar te kon afrig en ken sy manier van speel. Vir Dan kon ek net van ver bewonder.”
Volgens Woodward het Carter sy groot deurbraak in 2005 se Leeus-toer in Nieu-Seeland gemaak. In die tweede toets het Carter twee drieë gedruk en vier doelskoppe en vyf strafdoele oorgeskop.