2 dae gelede
Jonges moet plek kry
Abner van Reenen  ~ Gallo Images

DAAR kan ’n paar verrassende keuses tussen die ­Stormers-spelers wees wat Maandag na die Springbokke se belyningskamp in Kaapstad genooi is.

Rassie Erasmus, Suid­-Afrika se direkteur van rugby, en Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, en die res van die Bokke se afrigting- en bestuurspan was Maandag en Dinsdag besig met spelers van die Bulls en die Lions.

Van vandag tot Vrydag werk hulle in Durban met die spelers van die Sharks voordat hulle Maandag terugkeer na die Moederstad om met uitgesoekte Stormers-spelers te werk.

Gevestigde ­Bokke, soos die voorry van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe, en agter­speler-ysters soos Herschel Jantjies en Damian Willemse, behoort die kamp by te woon.

Daar sal ook ’n paar jonger spelers, wat nog nie die Groen-en-goud gedra het nie, deur die Bok-afrigters nadergetrek word.

Stempel

Scarra Ntubeni, wat voor 2019 se World Cup sy buiging in een toets vir die Bokke gemaak het, behoort beslis daar te wees.

Die vaskopstut Neethling Fouché, nóg ’n voorryman wat tot dusver vanjaar sy stempel in die skrums afgedruk het, sal nie deur Erasmus-hulle geïgnoreer kan word nie. Die 28-jarige boorling van Rustenburg het sy staal gewys en is beslis vir beter dinge beskore.

Sy onderskatte voorry-spanmaat Ali Vermaak het ook gewys dat hy verdien om op ’n hoër vlak te speel.

Met Bok-slotte soos Lood de Jager en RG Snyman tans op die krukkelys, behoort Salmaan Moerat en JD Schickerling ook betrokke te wees.

Kade Wolhuter, 19-jarige losskakel van die Stormers, is al op ’n vroeë ouderdom as ’n speler van nasionale belang uitgesonder.

Dié oudleerder van die Paul Roos Gimnasium het vanjaar sy buiging vir die Stormers teen die Cheetahs gemaak en hom heel goed van sy taak gekwyt.

Lanklaas

Erasmus en Nienaber sou egter ook kennis geneem het van die vertoning van Abner van Reenen in sy buiging in die nr. 10-trui vir die Kapenaars teen die Lions in die Cape Town Stadium.

Die 22-jarige het met ’n afgeronde vertoning vorendag gekom wat lanklaas deur ’n losskakel van die Kaap gesien is. Dit sal dus as geen verrassing kom as hy ook gevra word om Maandag vir die kamp op te daag nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters