Verlede maand
Jong kampioen mik hoog
SUKSES: Leyton Davids (links) en Regan Julius nadat Davids ’n goue medalje in die driesprong gewen het.  ~ Foto Verskaf

LEYTON Davids (19) – onthou dié naam – is van Bonnievale en is besig om die atletiekwêreld spring-spring te verower.

Davids, ’n gr. 11-leerder van die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool in Bonnievale, het laas week by Atletiek Suid-Afrika se jaarlikse kampioenskapsbyeenkoms met die goue medalje in die driesprong weggestap.

Davids se allemintige afstand van 16,46 m in die Tuks-sta­dion in Pretoria was genoeg om hom die titel van nasionale kam­pioen te verseker.

Dit was sy eerste besoek aan die land se hoofstad en die eerste keer dat hy in ’n vliegtuig gereis het.

Weens die Covid-19- maatreëls kon Davids nie met sy medalje op die po­dium pronk nie.

Hy en sy afrigter, Regan Julius, moes maar net ’n foto langs die baan neem om sy grootste oomblik te vier.

Maar vir eers is Davids se voete vas op die Langeberg se gruispaaie geanker.

Daar lê nog baie harde werk voor, verduidelik sy afrigter.

Julius, ’n polisieman by die Kaapstadse Internasionale Lughawe, is ’n groot kenner op die gebied van die driesprong.

Hy’t immers in 2003 aan die internasionale jeugbyeenkoms in dié item deelgeneem en is ook ’n nasionale afrigter op vlak 3.

“Dit is nie altyd oor die goeie afrigting nie, maar om ’n verskil te maak in ’n persoon se persoon­like lewe ook.

“Ek sê ook altyd ek is nie die wêreld se beste afrigter nie, maar ek sal altyd my beste gee vir die atlete om sukses te kan behaal,” verduidelik Julius.

’n Atletiekbyeenkoms word vir 6 Mei in Potchefstroom beplan­, maar daar heers steeds onsekerheid weens die corona-virus-pandemie of dit wel sal plaasvind.

Deelname hier sal Davids se kanse ver­beter om aan die Afrika-byeenkoms later vanjaar in Algerië deel te neem.

“Sedert ek aan sport begin deelneem het, is dit en bly dit my droom om Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig,” vertel Davids.

Verwerf

“Alles het egter by die Hoërskool Bonnievale begin waar hulle my geleer het om aan triple jump deel te neem.

“Die onderwyser daar, Peter Brink, het my baie sterk gemaak, terwyl my afrigter, Elmien Rossouw, my gehelp het om my eerste Boland-kleure te verwerf.”

Davids sal eers volgende jaar in matriek wees en hy het nog nie besluit wat hy wil studeer nie.

Maar met ’n blink atletiek-toekoms wat op hom wag, is die wêreld sy oester.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters