8 dae gelede
Johannes wag in spanning
Jean-Marc Johannes  ~ Lyle Minnaar

JEAN-MARC Johannes sal teen die einde van die maand weet of sy droom verwesenlik gaan word om Suid-Afrika by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio as skaatsplankryer te verteenwoordig.

As dit nie gebeur nie, is Johannes egter in die bevoorregte posisie dat hy reeds ’n uitnodiging van ’n ander land gekry het om daardie land se span na die Spele te vergesel.

Wêreldrekords

Die 29-jarige boorling van Athlone op die Kaapse Vlakte wil eerder baie graag die SA span haal om die Reënboognasie by die Spele te verteenwoordig.

Sedert 2017 het hierdie oudleerder van Hoërskool Windsor in Lansdowne ’n allemintige sewe wêreld­rekords op die skaatsplank opgestel.

Hy het twee weke gelede van Iowa in Amerika teruggekeer waar hy aan ’n Olimpiese kwalifiseringskompetisie deelgeneem het. En al het hy aan ál die vereistes voldoen, hang dit nou van Saskok af of hy Spele toe kan gaan of nie.

Johannes het gister aan Son gesê: “Ja, dit is die eerste keer dat skateboarding as ’n sportsoort by ’n Olimpiese Spele sy verskyning gaan maak.

“Dit is inderdaad baie opwindend en dit sal ’n besonderse eer wees om Suid-Afrika by die Spele te verteenwoordig.

“Ek het ’n uitnodiging van ’n ander land gekry om saam met hul span Spele toe te gaan, maar volgens Saskok sal ál die deelnemers van Team SA teen 30 Junie weet of hulle Spele toe gaan of nie.

“Van nou tot dan is daar nog kompetisies waaraan en kan deelneem.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters