14 dae gelede
JDR se toekoms ‘rooskleurig’
KAMPIOEN: JDR vier Saterdag sy sukses op Erica Park.FOTO VERSKAF  ~ 

“ONS toekoms lyk rooskleurig.”

Dít was die reaksie van JDR Stars se afrigter, Nnditsheni Nemasisi, nadat hulle uiteindelik promosie tot die Nasionale Eerste Liga (NFD) gewen het.

Stars het ook in die proses as wenner van die Tweede Liga se playoffs sy koffers ’n hupstoot gegee met R1 miljoen.

Stars het voor sy sukses vier jaar gesukkel om promosie tot die NFD te wen.

Volgens die nederige coach is hulle sukses hierdie keer beslis welverdiend, want aanhouers wen.

“Ek was al in die playoffs in Bloemfontein, waar ek teen Magesi FC verloor het,” het Nemasisi uitgewys.

“Ek was ook al op twee geleenthede runner-up. Ons probeer al geruime tyd en dis ’n aanduiding dat aanhouers wen.

“Vir eers gaan ons net die oomblik geniet, want dit was rêrig ’n lang seisoen met moeilike playoffs,” het hy bygevoeg.

Al gaan die NFD nie ’n walk in the park vir Stars wees nie, behoort die span sy man te kan staan.

Wraak

Stars speel ’n aantreklike brand van sokker. Die manne hou daarvan om die meeste balbesit te geniet en die wedstryde te dikteer.

Dít was veral laas week op Erica Park in Belhar duidelik toe hy Steenberg in die eindronde van die playoffs met 1-0 getroef het.

Dit was ook soete wraak vir die besoekers van die Goudstad nadat Steenberg hulle in ’n riller in die openingswedstryd van die reeks met 4-3 gestuit het.

Nemasisi reken hulle het teen Saterdag, ná drie dae in die Kaap, reeds goed aangepas en was beter voorbereid op Mike Lukhubeni, Steenberg se afrigter, en sy span.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters