15 dae gelede
Jason kan lopies stuit
groot taak: Jason Behrendorff slyp in die nette.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

AUSTRALIË se krieketspan wil sy boulaanval versterk om ’n lopiefees vandag in Taunton teen Pakistan te vermy.

Dit lyk of gunstige kolftoestande op dié twee spanne in hulle Wêreldbekerwedstryd wag en die boulers sal vroeg wil paaltjies neem.

Justin Langer, die Aussies se afrigter, is daarom baie gretig om die naatbouler Jason Behrendorff in te span.

Tensy daar reën is om die toestande vir die boulers beter te maak, lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat die lopies sal rol.

Langer sê Behrendorff is byna bo Nathan Coulter-Nile vir die Aussies se vorige wedstryd teen Indië gekies.

Behrendorff is daarvoor bekend dat hy met die nuwe bal gereeld paaltjies inoes.

Druk

Saam met Mitchell Starc, nóg ’n linksbouler, sal dit Behrendorff se taak wees om Pakistan se kolwers vroeg onder druk te plaas.

“Coulter-Nile gee ons die opsie van ’n veelsydige speler, maar Behrendorff sal dalk die beste man wees vir die taak wat nou vir ons voorlê,” verduidelik Langer.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Australië meer as een spesialis-draaier sal inspan.

Adam Zampa word tans bo Nathan Lyon vir dié rol verkies.

Langer sê hy hou van die toernooi se formaat, maar meen dit maak dinge taai.

“Daar is geen maklike wedstryde nie en ons moet gereeld tussen ons wedstryde reis.” – cricket.com.au

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters