10 dae gelede
Japanners bly verdeeld oor Spele
Tokio
NEE! Lede van die Japanse publiek betoog teen vanjaar se aanbieding van die Spele in Tokio.  ~ Getty Images

MET net ses weke oor blyk dit tog dat die Olimpiese Spele in Tokio voortgaan.

Luidens Reuters glo die helfte van die Japanse publiek dié vierjaarlikse skouspel sal steeds voortgaan.

Yomiuri Shimbun, ’n dagblad in Japan, het Maandag ’n landwye peiling hieroor gedoen.

Voortwoed

Die Spele in Tokio was veronderstel om laas jaar plaas te vind, maar dis weens die erge Covid-19-pandemie tot vanjaar uitgestel.

Daar is wel nog ’n deel van dié land se mense wat vrae het oor hoe die Spele kan voortgaan, terwyl die pandemie wêreldwys voortwoed.

Yoshihide Suga, die Japanse eerste minister, is hoeka in Maandag se parlement­sitting gepeper met vrae deur opposisielede.

Een voormalige Japanse sportheld het in sy mening aangevoer Japan is in ’n hoek gedruk om die Spele te laat voortgaan.

Luidens Yomiuri Shimbun se peiling, wat tussen 4 en 6 Junie gehou is, dui 50% van die terugvoer daarop dat mense dink die Spele sal voortgaan.

Vrywilligers

Altesaam 26% voel die Spele sal sonder die toelating van toeskouers plaasvind. Dan het 48% gesê die skouspel sal gekanselleer word.

Intussen het nóg 3 500 vrywilligers wat by die Spele sou uithelp, besluit om hulle te onttrek.

Dan het ’n verdere 10 000 vrywilligers al in ’n vroeë stadium gesê hulle gaan ook nie meer uithelp met die Spele nie.

Vanjaar se Spele is veronderstel om van 23 Julie tot 8 Augustus plaas te vind.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters