8 maande gelede
Jaer sterf by Dakar
TRAGEDIE: ’n Deelnemer in aksie in die Dakar Rally in Saoedië-Arabië.  ~ Gallo Images

DIE Dakar Rally is gister geskud deur die dood van ’n motorfietsjaer in Saoedië-Arabië.

Ten spyte van dié tragedie het die res van die deelnemers nogtans die dag se race voltooi.

’n Somber atmosfeer het by die tentkamp by Wadi Al Dawasir geheers ná die dood van die 40-jarige Dakar-veteraan Paulo Gonçalves van Portugal.

Gonçalves het gisteroggend halfpad deur sneltrajek 7, wat 546 km lank is, geval en is noodlottig beseer.

Die wedren is vroeër die oggend in ’n koel Riaad hervat ná Saterdag se rusdag. Die roete van altesaam 741 km na Wadi Al Dawasir was die langste tot dusver.

Daar was weer ’n strawwe stryd in die motorafdeling. Die Spaanse dubbele wêreldtydrenkampioen Carlos Sainz was die wenner in sy Mini-buisraammotor.

Dit was sy derde sneltrajek-oorwinning uit die sewe tot dusver en het sy algehele voorsprong verstewig.

Die Toyota Gazoo-renspan se 2019-Dakar-kampioen, Nasser Al-Attiyah, was die tweede vinnigste in sy veel swaarder Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux, met die Franse Dakar-koning, Stéphane Peterhansel, derde in nog ’n Mini.

Die res van die Toyota Hilux-kwartet – Bernhard ten Brinke (4de), Yazeed Al Rajhi (5de), Fernando Alonso (6de) en Suid-Afrika se Giniel de Villiers (7de), was volgende. Ten Brinke, Alonso en De Villiers is almal lid van die Toyota Gazoo-renspan.

Grawe

“Dit was ’n baie vinnige en baie hartseer sneltrajek vandag,” het De Villiers op Twitter gesê. “Ons meegevoel met die familie van Paulo Gonçalves. Rus in vrede.”

Nog ’n Suid-Afrikaanse verbintenis is die Franse jaer Matthieu Serradori, wat tot ’n uiteindelike 20ste algeheel herstel het nadat hy sy SA geboude Century-Chevrolet-buisraammotor uit die sand moes grawe – iets wat die tweewiel-aangedrewe Mini’s sover vrygespring het.

Die Suid-Afrikaanse private jaer Hennie de Klerk en sy navigator, Johann Smalberger, het hul Nissan Navara in ’n skitterende 26ste plek oor die wenstreep gestuur. Hul Red-Lined-spanmaats Thomas Bell en Patrick McMurren was 36ste.

Wat die algehele stand van sake betref, is Sainz tien minute voor Al-Attiyah, met Peterhansel derde, gevolg deur Al Rajhin Orlando Terranova (Mini).

De Villiers het tot sesde opgeskuif, met Ten Brinke nou sewende algeheel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters