14 dae gelede
Is hý Chippa se redder?
Ruzaigh Gamildien  ~ Gallo Images

RUZAIGH Gamildien kan die Chilli Boys se held wees as sy doele die span dié seisoen van relegasie red.

Gamildien het van Steenberg United geskuif.

In net sy tweede verskyning vir Chippa het hy ’n doel vir die span aange­teken. Die span het in die ronde van 32 ’n oorwinning van 3-0 behaal oor die voormalige Nedbank Cup champ TS Galaxy.

Die voormalige Ajax-speler het ook die ander twee doele in die oorwinning gemaak. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys.

Gamildien hoop dié peil sal voortduur. Dis die derde keer dat hy terug is by die Chilli Boys.

Hy het gesê: “Wel, ek is ingebring om doele aan te teken. So, ek is bly dat ek reeds in my tweede wedstryd ’n doel aangeteken en die ander doele gemaak het. Dit help die span, en dit is belangrik.”

Gamildien se doel teen Gal­axy was sy 12de doel van die seisoen.

Die ander 11 het hy aangeteken by Steenberg, wat in die Nasionale Eerste Liga speel.

“Dit is tot dusver my beste seisoen in terme van doele.

“Ek werk hard daaraan om dieselfde vorm by Chippa te handhaaf.

“Chippa kort doele om rele­gasie af te weer.

“Indien ons meer doele aanteken as ons teenstanders, sal ons natuurlik wedstryde wen en oorleef.”

Dit lyk of Gamildien en die sterk Nigeriese doelskieter Augustine Kwem ’n gif­tige vennootskap kan vorm.

“Ek het nog net twee wedstryde gehad, maar dinge lyk goed. Hopelik sal dit steeds tussen ons verbeter sodat ons nog doele kan kry.”

Chippa se breier, Norman Mapeza, sê Gamildien is dalk net wat die span tot dusver gemis het.

“Dit lyk of Gamildien en Kwem goed kan saamwerk.

Aanspoor

“Hopelik kan Gamildien doele kry en die span ’n bietjie aanspoor. Tot dusver het hy uitstekend gedoen in die twee wedstryde.”

Gamildien en Kwem sal op hulle stukke moet wees, want Chippa pak die verdedigende PSL champs, Mamelodi Sundowns, Saterdag op Loftus Versfeld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters