2 maande gelede
Is dit rugby of krieket?
sterre: Siviwe Zondani en Hlumelo Klaas hou Grey se naam hoog. foto verskaf  ~ 

DIT IS ’n ewige stryd tussen die twee sportsoorte.

Dit is hierdie tyd van die skooljaar wanneer belang­rike krieketwedstryde by baie skole met die begin van die rugbyseisoen oorvleuel.

In talle skole vorm jou beste krieketspelers ook die kern van die eerste rugbyspan.

Die toutrekkery oor die dienste van die rugby- en krieketuitblinkers het al tot menige warm rusie tussen die onderskeie skole-afrigters gelei.

Al is die rugby maar taamlik stadig in Maart, bied baie Oos-Kaapse skole verskeie opwindende rugbyfeeste aan.

Die Graeme College hou Saterdag sy jaarlikse rugbydag in Makhanda (Grahamstad).

Die gasheerskool kom dan in een van hierdie wedstryde teen Dale College te staan.

Die Noord-teen-Suid-toernooi begin ook Saterdag op die HTS Daniel Pienaar se velde in Uitenhage.

Daar word ook wedstryde op Maandag en Woensdag gespeel.

Die Hoërskool Grey se jaarlikse tweedaagse fees vind op 21 en 23 Maart op dié skool se velde in Port Elizabeth plaas.

Daar sal 25 skole se eerste spanne op die fees in aksie wees.

As die gasheer sal Grey natuurlik die teiken van die teenstanders wees en sal moet uithaal om sy wedstryde te wen.

Hy sal wel sy twee sewessterre, Siviwe Zondani en Hlumelo Klaas, kan inspan.

Dié twee was verlede naweek uitblinkers vir Suid-Afrika se o. 18-sewesspan wat die Capricorn-toernooi in Windhoek onoorwonne afgesluit het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters