11 dae gelede
Iron Duke eis respek
Irvin Khoza  ~ Gallo Images

DIE respek én vrees is so groot vir die Premierliga (PSL) se grootbaas, Irvin Khoza, dat niemand dit sal waag om teen die “Iron Duke” te gaan nie – niemand.

Dít is duidelik ná die PSL se raadsvergadering oor die pad vorentoe vir die liga te midde van die corona-krisis.

Khoza het op dié vergadering toe wel besluit die liga gaan alle wedstryde staak.

Maar dis eers ná Khoza aanvanklik gesê het die liga sal agter geslote hekke voortgaan – nes die nasionale minister van sport en kultuur, Nathi Mthethwa, ook die groen lig gegee het vir alle wedstryde om voort te gaan.

Khoza verander toe sy deuntjie deur te sê hy stop die liga, maar net omdat dit die mandaat van pres. Cyril Ramaphosa is.

“Laat ons duidelik wees, die liga is geskors deur die president se mandaat dat ons sake moet evalueer,” het Khoza aan Times LIVE gesê.

“Van dit is dat nie meer as 100 mense mag byeenkom nie,” het Orlando Pi­rates se eienaar bygevoeg.

Volgens Jomo Sono het hy te veel respek vir Khoza om sy mening oor die besluit te gee.

Die SA sokkerlegende meen hulle is bang om oor hierdie ding te praat.

Verkeerd

“Die voorsitter het gepraat en ons mag nie ná hom praat nie,” het Sono verduidelik.

“Dis protokol. Ek weet nie of die regte besluite geneem is nie.

“Maar ons kan nie praat nie, reg of verkeerd. As ek ná die voorsitter praat, sal dit verkeerd wees,” het Sono geskerm.

Die PSL het aangedui dat wedstryde op die vroegste teen 4 April weer hervat sal word, dit is nou te sê as die corona-krisis teen dan al verbeter het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters