2 maande gelede
Integriteit van Superrugby Unlocked bevraagteken
Joey Mangalo  ~ Gallo Images

DIE integriteit van die Superrugby Unlocked-kompetisie word bevraagteken.

Die Bulls is tans bo-aan die puntelys met nog net een ronde oor.

En as hul laaste game Saterdag teen die Pumas weens Covid-19 nie plaasvind nie, gaan die wenner van die kragmeting tussen die Sharks en Stormers as kampioen gekroon word.

Die Bulls is vasbeslote dat SA Rugby hul laaste wedstryd moet herskeduleer pleks van dit kanselleer – sodat hulle ’n kans kan staan om die titel te wen.

Joey Mongalo, verdedigingsafrigter van die Bulls, glo die game teen die Pumas móét voortgaan.

Beperk

“Ons oefen met die aan­name dat die game steeds voortgaan,” het Mongalo gister in ’n verklaring gesê.

“Dit is ook ’n manier om onsekerheid te beperk. Die enigste ding wat dan kan verander, is dat ons slegte nuus ontvang (in terme van uitstel).

“Maar ek is seker die Pumas sal self baie gretig wees om hierdie game te speel, want hulle is nou al byna drie weke onaktief.”

Die Pumas se kragmeting met die Lions het laas week weens Covid-19-protokolle nie plaasgevind nie. Die stryd tussen die Cheetahs en die Lions is vroeër in die kompetisie om dieselfde rede nie gespeel nie. Albei spanne het twee ligapunte gekry.

Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, meen die herskedulering van die wedstryde sal onregverdig wees, aangesien hul game teen die Lions gekanselleer is.

“Ek kan verstaan ??dat die Bulls-Pumas-wedstryd nog kan voortgaan, maar ek dink nie die game tussen die Lions teen die Pumas moet herskeduleer word nie.

“Dit sal onregverdig wees,” het Fourie ná sy span se nederlaag van 13-30 teen die Stormers Saterdag op Nuweland laat hoor.

“Ek dink nie dit sal regverdig wees dat sommige games gespeel word en ander nie.

“Dit sal die integriteit van die kompetisie in die weegskaal plaas.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters