6 dae gelede
Indië wil T20 speel
Graeme Smith  ~ Getty Image

KRIEKET Suid-Afrika (KSA) het gister via ’n videokonferensie sy planne met die media gedeel om die spel weer aan die gang te kry.

Dr. Jacques Faul, die KSA se waarnemende uitvoerende hoof, Graeme Smith, direkteur van krieket, dr. Shuaib Manjra, mediese hoofbeampte, sowel as die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), Andrew Breetzke, was almal in die digitale vergadering.

Die belangrikste aankondigings was dat ’n ondersteuningsfonds gestig word om spelers in nood gedurende die pandemie te help, sowel as voort­gesette planne vir die Proteas om Indië in die komende maande aan te durf.

Faul het gesê: “Dit is ’n fonds wat ondersteuning sal bied aan diegene in die krieketbedryf en ook aan die kwesbaarste Suid-Afrikaners.

“Ons moet ons stem as krieket gebruik en ook die pogings koördineer van sommige van ons spelers wat reeds by iets soortgelyks betrokke is.”

Breetzke het bygevoeg: “Ons is op ’n belangrike tydstip waar die toekoms van die spel in die gedrang is, daarom is dit belangrik dat Saca met die KSA saamwerk in die beste belang van die spel – en dit geld vir alle belanghebbendes. Dit is wat ons tans doen.”

Faul het ook positief gepraat oor besprekings met Indië oor ’n toer wat beplan word vir die einde van Augustus.

“Ons het Woensdag ’n telecon met Indië gehad. Ons is aangemoedig deur hul bereidwilligheid om hul ooreenkoms om die drie T20’s in Augustus te speel, na te kom, en as dit uitgestel word, miskien ’n bietjie later.

“Ons werk via Sascoc met die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa.

“Ons is besig om toestemming te kry om, indien nodig, agter geslote hekke te speel. Dit hou verband met die moontlikheid van die Indië-toer en ander inkomende toere.

“Ons probeer innoverend wees, want dit is ’n belangrike toer vir ons,” meen Faul.

  • Intussen het Smith uitgekom om vir sy vriend Sourav Ganguly te kolf. Hy steun die voormalige Indiese kaptein om die leisels van president van die Internasionale Krieketraad (ICC) by sy landgenoot Shashank Manohar oor te neem. Die ICC-verkiesing vind in Julie plaas.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters