3 maande gelede
Ilhaam is ’n baanbreker
Ilhaam Groenewald  ~ Foto Verskaf

SY BEKLEE een van die magtigste poste in Suid-Afrikaanse sport.

Tog gaan haar roem en status nie na haar kop nie.

Inteendeel, Ilhaam Groenewald is een van die mees nederige en opregte individue tans in sportadministrasie.

En wat anders kan ’n mens verwag van ’n boorling van ’n Noord-Kaapse dorpie soos Keimoes?

Haar rise to fame teen alle odds het beslis niks uit te waai met gender equality of tokenism nie; wel met meriete en harde werk.

Haar sukses is spreekwoordelik welverdiend, want sy kom deur die trenches en die ranks van die Sacos-era – ’n tyd toe comrades vir die regte ding geveg en gestaan en opofferinge gemaak het tydens die struggle.

Ja, wat! Groenewald, die Universiteit Stellenbosch se eerste vroue-direkteur, is beslis ’n baanbreker.

Sy is ’n goeie voorbeeld van die skoner geslag wat wys wat bereik kan word met die regte attitude.

Groenewald kan beslis haar manlike eweknieë ’n ding of twee wys oor hoe sport bestuur moet word.

“Ek is passievol om ’n verskil te maak in sport, nie net vanuit ’n vrou se oogpunt nie, maar in die algemeen,” verduidelik die 50-jarige ma van drie.

Apartheid

“Ek het reeds van ’n vroeë ouderdom ’n besluit geneem oor wat ek nie in my lewe wil hê nie.

“Toe ek my familie sien uitgeskop word uit hul huis in my hometown weens die forced removals tydens apartheid, het ek dan en daar reeds besluit ek sal aksie moet neem om beheer oor my lewe te hê eerder as om op die mercy en hand-outs van ander te moet staatmaak.

“Ek het vir myself gesê ek wil nooit ’n victim van enige iets wees nie.

“En om dit te verhoed, moes ek myself opvoed en ek moes bereid wees om opofferinge te maak sodat ek my goals kon achieve,” vertel sy.

Groenewald het ’n graad in bedryfsadministrasie en ’n meestersgraad in sportbestuur van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Sy is ook die eerste adjunkpresident van Universiteitsport Suid-Afrika (Ussa), én voorsitter van Suid-Afrika se Sportforum.

GELUK: Groenewald ontvang haar honneursgraad van die Universiteit van Wes-Kaapland. Foto: Verskaf

In 2016 het Groenewald nóg een van haar doelwitte bereik toe sy die landskap van administrasie van Suid-Afrikaanse rugby getransformeer het. Dit was beslis nog ’n feather in haar cap toe sy gekies is as die eerste vroulike uitvoerende lid van SA Rugby.

’n Mens kan ook maar net wonder waarom sy nie herverkies is nie.

Dalk was sy te opreg en het sy op tone getrap? Dalk is haar visie, passie en toewyding ’n bedreiging vir haar eweknieë in ’n tradisionele male-dominated bedryf?

Groenewald het ook haar stempel afgedruk op Sascoc se kommissie vir transformasie.

Sy het dit egter duidelik gemaak dat sy geen begeerte het om die sweep by Sascoc te klap nie.

“Nee, beslis nie. Daar is te veel ander aspekte waarop ek wil konsentreer,” sê sy.

Volgens Groenewald is haar passie en liefde vir haar craft haar fondament en dryfkrag.

Passievol

“Die aansporing wat ek van my familie, my span, my mentors en medewerkers ontvang, gee my net nóg woema,” verduidelik sy.

Groenewald is sedert skooldae passievol oor sport. Daar het sy aan sportsoorte soos netbal, atletiek en vlugbal deelgeneem.

Vlugbal is veral baie na aan haar hart en sy het diep spore daarin getrap.

Groenewald het ook nie geskroom om koppe te stamp met die sport se hiërargie nie – veral die tyd toe die omstrede destydse leier Tubby Reddy probeer het om ’n empire vir homself te bou nie.

“Kyk, mense moet verstaan ek het nie die sport gelos oor hom nie, maar eerder oor die principles waarvoor hy gestaan het.

“Die status quo het nooit verander nie. Onetiese gedrag was aan die orde van die dag en dís waarom ek bereid was om hom te fight.

“Die groei van sport is afhanklik van langtermyn strategiese beplanning, wat gesamentlik deur ál sy lede ondersteun word, en ’n sterk bestuurstelsel wat ’n uitvoerende komitee aanspreeklik hou.

“Strategiese beplanning, goeie menslike hulpbronne en ondersteuning deur befondsing is belangrik vir doeltreffende administrasie.

“ ’n Visie en strategie is ook van die belangrikste bestanddele vir enige suksesvolle organisasie.”

MANSWÊRELD: Ilhaam Groenewald is die eerste vrouelid wat tot SA Rugby se uitvoerende komitee verkies is. Foto: Verskaf

Volgens Groenewald was dit nie destyds die geval in vlugbal nie. Sy voeg by dis deesdae ongelukkig steeds dieselfde.

Dis duidelik dat Groenewald se opregtheid en uitgesprokenheid haar by tye baie ongewild gemaak het in haar loopbaan. Maar vir haar is dit maar soos water op ’n eend se rug.

“Kyk, sexism en gender inequality is niks nuuts in alle gebiede van ons samelewing nie. Daar heers steeds ’n siening dat vroue die mindere of domesticated stereotypes moet wees in ’n male dominated world.

Duidelik

“Die wetgewing en die bewusmaking is besig om vroue se posisie te help verander en hulle op dieselfde vlak te bring as mansatlete, maar ons het nog ’n baie, baie lang pad om te gaan,” reken sy.

Dis duidelik dat meer mense met soortgelyke denkwyses aan Groenewald s’n in leierskapsposisies in die Reënboognasie nodig is.

Sy het gewys sy het die regte karakter en visie om ’n groot bydrae in Suid-Afrikaanse sport te maak.

“Dinge hang nie net van my af nie, maar ek is beslis reg om te lei,” het sy afgesluit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters