8 maande gelede
Human vervang Proudfoot
Daan Human  ~ Gallo Images

DAAN Human gaan voortaan opgesaal wees met die taak om die Bokke se nuwe skrumghoeroe te wees.

Die 43-jarige voormalige Springbokstut gaan na verwagting oorneem by Matt Proudfoot.

Human het van 2001 tot 2004 in 26 games vir die Stormers uitgedraf.

Van 2004 tot 2012 het Human in ’n allemintige 169 games vir Toulouse gespeel.

Human, wat laas jaar die Cheetahs en die Bulls se skrumdokter was, gaan oorneem by Proudfoot, wat ’n sleutelrol gespeel het om die Bokke te help om die World Cup in die final teen Engeland in Japan te wen.

Proudfoot gaan voortaan die Engelse rugbyspan help afrig.

Die 47-jarige boorling van Klerksdorp was Suid-Afrika se voorspeler-afrigter toe die Springbokke op 2 November laas jaar die World Cup in Japan gewen het. Hy gaan nou in Engeland in dieselfde rol ingespan word.

Grondslag

Die Bokke het Engeland met 32-12 in die final van die rugbyskouspel in Yokohama ore aangesit.

Die Bokke se skrum het die Engelse s’n heeltemal verwoes. Die Rose het geen antwoord vir die Bokke se voorhoede gehad nie.

Dit het die grondslag vir Siya Kolisi (kaptein) se span se oorwinning gelê.

Proudfoot het Skotland van 1998 tot 2003 in vier toetse in die stutposisie verteenwoordig.

Die oudleerder van die Hoërskool Potchefstroom het in sy speeldae vir die rugbyklubs Melrose, Edinburgh en Glasgow Warriors in Skotland uitgedraf.

In Suid-Afrika het hy vir die Luiperds en die Blou Bulle gespeel.

In sy loopbaan as coach het hy die Noordwes-Universiteit, die Westelike Provinsie, die Stormers en die Japanse Kobelco Steelers afgerig.

Daarna was hy hulpafrigter van die Bokke onder Allister Coetzee in 2016 en Rassie Erasmus in 2018.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters