Verlede maand
Hoe gouer hoe beter’
Ronaldo Maarman Foto: theo jeptha  ~ 

DIE Chilli Boys se plaaslike ster Ronaldo Maarman sê hoe gouer hulle speel, hoe beter.

Hy het sy boots weer aangetrek vir oefening en sê dit was soos om van voor af verlief te raak op sy sport.

Chippa het die afgelope week soos baie ander Premierliga (PSL)-spanne weer begin oefen, maar onder streng regulasies as gevolg van die corona-virus-pandemie.

Die PSL het voorgestel om op 18 Julie weer af te skop, maar Safa het aangekondig dat dit te vinnig kan wees ná vier maande buite aksie.

Maarman sê egter hy voel daar is nie baie tyd oor voor die nuwe seisoen, wat in Augustus sou afskop nie.

“Dit klink gou om op die 18de begin speel, maar spanne moet liga- en Nedbank-wedstryde speel en dit alles voordat ons in Augustus die nuwe seisoen moet begin. So, ek dink hoe gouer ons speel, hoe beter.”

Hy sê dit was egter wonderlik om weer op ’n veld te hardloop, maar alles voel ’n bietjie vreemd.

“Dinge is baie anders. Almal volg natuurlik die regulasies en dit maak dit baie vreemd, maar tog het ons geoefen. Ons moet nou net probeer om ons maskers te dra en nie onnodige kontak te maak nie.”

“Dit was asof ek weer kon asemhaal toe ek op die veld hardloop, maar met al die regulasies is dit natuurlik iets anders. Ons moet net leer aanpas sodat ons die seisoen kan voltooi en veilig bly.”

Belangrik

Die gevaarlike aanvaller sê hy en die res van die span is baie gelukkig met die terugkeer, maar hulle weet die oorblywende ses wedstryde is baie belangrik.

“Ek dink net omdat almal weer bymekaar is, is almal gelukkig omdat ons weer kan speel, maar die span weet presies hoe belangrik ons oorblywende wedstryde is.

“Benewens oorlewing is daar steeds ’n kans om die Top 8 te haal en ek glo ons kan dit bereik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters