Verlede maand
Heyns loof goue swemmer
Penny Heyns en Tatjana Schoenmaker vroeër vandeesweek.  ~ Twitter

TOKIO. – Die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese goue medalje-wenner Penny Heyns sê sy het nooit gehuil wanneer sy haar wedlope gewen het nie, maar sy kon nie haar trane keer toe Tatjana Schoenmaker Vrydag Suid-Afrika se eerste goue medalje op die Spele in Tokio verower het nie.

Heyns het in 1996 op die Olimpiese Spele in Atlanta ’n die goue medalje in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen.

Dit het haar die enigste vrou in die geskiedenis van die Olimpiese Spele gemaak wat beide die 100 m- en 200 m-borsslag kon wen.

Sedertdien kon geen Suid-Afrikaanse vroue daarin slaag om weer ’n goue medalje op ’n Spele te wen nie.

“Ek het ’n paar keer met Tatjana gechat wanneer ons mekaar gesien of op die foon gepraat het. Tatjana se reaksie toe sy sien sy het gewen, het my ook laat huil. Ek het nooit na my eie resies gehuil nie. Die manier hoe sy vier is so nederig. Dit is presies 25 jaar sedert ek goud in die 200m gewen het. Dis 22-jaar sedert ek ’n wêreldrekord opgestel het.

“So Tatjana het dit vandag ook vermag om goud te wen en ’n nuwe wereldrekord op te stel. Dit is die eerste goue medalje vir Suid-Afrika. Myne was ook die eerste een vir Team SA, so dit is nogal spesiaal."

Heyns sê dat die Zimbabwiese swemmer Kirsty Coventry, wat saam met haar kommentaar op die Spele in Japan lewer, vir haar gesê het toe sy destyds haar goue medalje gewen het, was Zimbabwe aan die brand.

“En nou dat Tatjana haar goue medalje gewen het, is dinge by die huis ook nie so lekker nie. Dit is nogal iets wat interessant is,” het Heyns bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters