2 maande gelede
Herschel kan rus
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - NOVEMBER 28: Godlen Masi
Godlen Masimla  ~ Shaun Roy

HERSCHEL Jantjies is heeltemal weggelaat uit die Westelike Provinsie (WP) se groep vir Saterdag se Curriebeker-kragmeting met die Lions op Ellispark in Johannesburg.

Volgens John Dobson, afrigter van die WP, is dit as gevolg van sy rotasiebeleid dat die Springbok-skrumskakel nou ’n blaaskans kry.

Godlen Masimla is in Jantjies se plek in die beginspan ingesluit. Masimla vorm saam met Tim Swiel ’n nuwe skakelpaar.

“Ons het in Herschel, Godlen en Paul (de Wet) drie skrumskakels wat basies dieselfde soort game speel.

“Die twee laasgenoemdes het tot dusver nie baie rugby gespeel nie.

Blaas

“Ons het twee weke gelede beplan dat Godlen en Paul in dié game gaan speel, terwyl Paul volgende week teen die Pumas ingespan gaan word, met Herschel op die bank.

“Dié twee manne blaas al ’n ruk lank in Herschel se nek.

“Herschel gaan die geleentheid kry om te rus,” het Dobson verduidelik.

Damian Willemse, die WP-losskakel wat laas week op Nuweland in die nederlaag met 20-22 teen die Blou Bulle met sy stelskoppe gesukkel het, is as heelagter ingesluit.

Hy speel in die plek van die beseerde Warrick Gelant.

“Ja, Warrick is uiteraard ’n groot terugslag, veral met sy vermoë om met beide voete takties goed te skop.

“Damian het reeds teen Engeland toets­rugby op heelagter gespeel, so dit is nie vir hom ’n nuwe posisie nie.

“Baie mense dink in elk geval dit is sy beste posisie. Dit is dus ’n logiese keuse.”

Dobson meen Willemse sal in die laaste vesting boonop ’n bietjie meer spasie hê wanneer hy die bal in die losskakel­posisie van fasespel ontvang.

Bestuur

“Ja, wanneer hy, soos Willie le Roux en Handré Pollard, vir die Springbokke die bal as first receiver ontvang, lyk hy regtig baie meer relaxed. Dit kan dalk net in ons guns uitwerk.

“Ons dink ook Tim het baie goed gedoen toe hy opgekom het. Hy bestuur die game goed en gaan ook die stelskoppe behartig.

“Dit sal die druk ’n bietjie van Willemse afhaal dat hy net sy natuurlike spel kan speel.”

Die Blitsbok Ruhan Nel gaan saam met Dan du Plessis ’n nuwe kombinasie in die middelveld vorm.

“Ruhan maak ná ’n langtermynbesering sy terugkeer op 13. Dan skuif na binnesenter, wat eintlik sy beste posisie is.”

Dobson het gesê sy span sal die uitdaging in Johannesburg moet aangryp.

“Ons weet dat ons dié naweek 80 minute lank op ons beste sal moet wees as ons die uitslag wil kry waarna ons soek.

“Ons het goed voorberei vir die game. Almal sien uit na die geleentheid om te wys wat dit vir ons beteken om vir WP te speel,” het hy gesê.

DIE WP-SPAN IS: Damian Willemse, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Dan du Plessis, Angelo Davids, Tim Swiel, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff.

BANK: Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Neethling Fouché, David Meihuizen, Marcel Theunissen, Johan du Toit, Paul de Wet, Tristan Leyds, Jaco Coetzee, Kade Wolhuter, Rikus Pretorius.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters