5 maande gelede
Heric kan beplan
ek gaan bly! Vladislav Heric kan nou langtermyn-planne met die Chilli Boys maak. Foto: gallo images  ~ 

VLADISLAV Heric kan nou amptelik begin beplan aan Chippa United se voorseisoense aktiwiteite nadat hy die leisels gegee is vir die 2018-’19-seisoen.

Die klub se grootbaas, Chippa Mpengesi, het die aanstelling van Heric as afrigter bevestig.

Die Serwiër het met sy aankoms ’n korttermynkontrak geteken met die opsie om volgende seisoen voort te gaan met sy afrigtingswerk.

“Ek is baie verheug om aan te kondig dat ons besluit het om Heric se kontrak met die klub vir die 2018-’19-seisoen te verleng,” het Mpen­gesi gesê.

Die feit dat Heric Chippa basies weer uit die sop gehelp het, het gehelp dat hy weer gaan aanbly.

“Heric het in Maart by ons aangesluit, toe ons so ’n bietjie in die moeilikheid was in die 13de plek en amper deur relegasie in die gesig gestaar is,” sê Mpengesi.

“Hy het saam met die tegniese span goeie werk gedoen om ons toe amper tot ’n top-agt-plek te lei.”

Heric het nou die geleentheid om die span se voorseisoense voorbereidings te hanteer.

“Ons sal stelsels skep om hom te ondersteun en ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir positiewe resultate.

“Ons sal mettertyd enige veranderings bekend maak as ons spelers koop of verkoop,” het Mpengesi belowe.

Hopelik sal Heric nou tyd hê om aan die spelers se mentaliteit te werk.

Hy het dit genoem as een van die redes waarom die span die seisoen gesukkel het.

Heric sal ook nou genoeg tyd hê om nuwe talent te kontrakteer en die span se diepte uit te bou.

Intussen het Mpengesi ook die lojale ondersteuners vir hul toewyding deur die goeie en slegte tye die afgelope seisoen bedank.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters