2 maande gelede
Heidelberg sink in reën
vat so: Marcilino Meyer, losvoorspeler van Heidelberg, stuur die bal weg.  ~ 

NIE eens die kosbare reën wat oor die Heibi-stadion – tuiste van die rugbyspan van Heidelberg – uitgesak het, kon enigsins ’n demper plaas op die hardlooprugby wat hier opgelewer is nie.

Hoewel Crusaders die Suidwestelike Distrikte-premierliga-wedstryd met 26-21 gewen het, was dit vir die manne van George ’n gespartel in die nat toestande.

Crusaders was rustyd met 8-16 voor. Maar die tuisspan kan gaan nadink oor die kanse wat hy verbrou het om dalk die wedstryd te wen.

Vasgevat

Heidelberg se losskakel, Corbin Swartbooi, het met twee strafskoppe laat in die tweede helfte ook die telling tot 21-23 laat krimp.

Johan Erasmus, afrigter van Heidelberg, sê: “Ons het te veel verkeerde opsies uitgeoefen.

“Dit is teleurstellend, maar gelukkig rus ons ’n week voor ons volgende wedstryd teen Bridgton.”

Voorlangs het die twee spanne mekaar vasgevat, met Lyndon Hartnick wat aan die voorpunt van die tuisspan se inklimspel was.

Heidelberg se senter Anrich Manho het ook talle kere die besoekers se verdediging laat rondval met sy kragtige breekslae.

Vir die besoekers was die losskakel Gladwell Jafta met twee strafskoppe, ’n doelskop en ’n skepdoel in die kol.

Hy het ook met sy taktiese skopwerk druk op die tuisspan geplaas.

Uitslae: George 27, Bridgton 21; Progress 34, Blanco 31; Crusaders 26, Heidelberg 21, Evergreens 38, Groot-Brak 22; Jaguars 30, Maori 24; Barbarians 45, Silver Stars 16.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters