11 dae gelede
Hartverskeurende nederlaag vir Force in Super Time
MELBOURNE, AUSTRALIA - MARCH 07: Isi Naisarani of
Isi Naisarani het die Rebels se wendrie in ekstratyd gedruk.  ~ Getty Images

ISI Naisarani se drie in Super Time het Vrydag gelei tot ’n naelbyt  Superrugby AU-oorwinning vir die Rebels van 25-20 oor die Force in Sydney.

Die kragmeting het na 80 minute met 20-20 gelykop geëindig. Volgens die reels van die kompetisie moes die twee spanne vyf minute ekstra Super Time speel sodat een van die spanne as ‘n oorwinnaar uit die stryd kon tree.

Die Force kon nie die balbesit van die afskop beheer nie wat hulle duur te staan gekom het.

Dit was die Force se vierde agtereenvolgende nederlaag in die Superrugby AU-kompetisie. Dit was ook die eerste keer dat die Rebels, wat die Waratahs laas week geklop het, agtereenvolgende oorwinnings in die kompetisie behaal het.

Dit was veral ’n bitter pil om te sluk vir die span van Perth omdat hy drie jaar gelede ten gunste van die Rebels deur Rugby Australië uit Superrugby weens koste besparings uit die kompetisie uitgesmyt is. 

Dit was die eerste keer dat die twee spanne sedertdien teen mekaar speel. Die Force het dus ’n punt gehad om te bewys.

Die manne van Perth het ’n vroeë voorsprong van 10-0 opgebou danksy ’n verdoelde drie van die slot Fergus Lee Warner en ’n strafdoel va die losskakel Jonno Lance.

Ongelukkig was dit tot dusver die verhaal van Force se veldtog in vanjaar se AU-kompetisie. Die span het in sy eerste twee games met 14-0 voorgeloop en verloor. 

In Vrydag se game het presies dieselfde gebeur.

Reece Hodge het net voor die rustyd ’n strafdoel deur die pale gejaag nadat hy vroeër ’n drie van Jordan Uelese verdoel het. Dit het die rustydtelling gelykop gemaak.

In die tweede helfte het presies dieselde gebeur met beide spanne wat verdoele drieë en ’n strafdoel elk aangeteken het. Die eindtelling het op 20-20 geëindig.

In ekstra tyd het Hodge ’n kans gehad om die game te wen met ’n strafskop van sowat 60m. Al was sy skop in die regte rigting, het die bal net voor die dwarsbalk geval.

Toe die Rebels daarna balbesit kry het hulle die situasie uitgebuit met Naisarani se wendrie.

Die puntemakers is:

FORCE - drieë: Fergus Lee Warner, Byron Ralston. doelskoppe: Jono Lance (2). strafdoele: Lance (2).
REBELS - drieë: Jordan Uelese, Matt Philip, Isi Naisarani. doelskoppe: Matt Toomua (2). strafdoele: Reece Hodge, Toomua.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters