6 dae gelede
Hart seal deal vir skuif
WÊRELDGEHALTE: Warrick Gelant verlede jaar by die World Cup in Japan in aksie vir die Springbokke.  ~ Gallo Images

WARRICK Gelant het na bewering vir minder geld van die Bulls na die Stormers geskuif.

Die 25-jarige boorling van Knysna was glo nog altyd ’n fan van die WP en die Stormers.

Die Stormers het oor die jare ’n reputasie opgebou as ’n span wat aanvallende rugby speel.

John Dobson, afrigter van die Stormers, is ook ’n voorstander van aantreklike hardlooprugby.

Daarteenoor is sy eweknie by die Bulls, Jake White, bekend vir sy meer konserwatiewe benadering tot die spel.

Dit is dalk om dié rede dat Gelant besluit het om sy loopbaan in die Kaap voort te sit.

Die oud-leerder van die Hoërskool Outeniqua is net soos Dillyn Leyds ’n veel­sydige agterspeler wat heel gemaklik in enige plek in die agterste driehoek kan speel.

Dié twee het in 2017 saam in die Bok-beginspan teen Wallis in Cardiff gespeel – albei op vleuel.

Gelant en Leyds is uiters vaardige spelers. Albei het hope spoed en ’n ongelooflike aanvoeling vir die spel.

Die groot verskil tussen die twee is Gelant se vermoë om die spel met sy skopvoet te dikteer.

Hy kan met enige voet gemaklik skop.

Vryheid

Vir die Stormers sal dit baie beteken, veral omdat hul agterlyn nog nie vanjaar na sy volle potensiaal gespeel het nie.

Damian Willemse se sterk punt is nie sy taktiese vermoëns nie.

Met Gelant wat die game takties met sy skopstewel kan beheer, sal dit ’n speler soos Willemse die vryheid gee om sy natuur­like spel op losskakel te speel.

Leyds is ’n bobaasspelskepper, maar hy het nie dieselfde taktiese vernuf as Gelant nie.

En dít is waar die Storm­ers se nuwe aanwins dalk die grootste bydrae van die laaste vesting gaan maak wanneer die rugbyseisoen uiteindelik weer aan die gang kom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters