2 maande gelede
Harde werk skep juweel
‘NUWE VERN’: Glenton Stuurman vier ’n paaltjie.  ~ Gallo Images

DIE Proteas het in Glenton Stuurman ’n juweel ontdek.

Só meen Robin Peterson, sy afrigter by die Warriors.

Die Proteas het Stuurman (28), ’n naatbouler en boorling van Oudtshoorn, Vrydag die eerste keer opgeroep vir die komende witbalreeks teen Engeland in die Wes-Kaap.

Peterson, oftewel Robbie P, het gister saam met Son oor Stuurman gepraat.

“Hy was die afgelope twee seisoene een van die voorste boulers in die land,” sê die voormalige Proteas-draaibalbouler. “Ons is baie trots op wat hy tot dusver vermag het, veral oor hy ’n Warriors- en OP-speler is.

“Sy stel vaardighede is baie soos Vernon Philander s’n. Dis baie moeilik om iemand met Vern te vergelyk, maar in dié stadium is hy waarskynlik die naaste daaraan in die land.”

Oor Stuurman se kans op ’n internasionale debuut, sê Robbie P: “Dis ’n goeie geleentheid.

“As hy op die volgende vlak kom, sal hy kan sien waar sy tekortkominge is.

“In dié stadium is daar nie veel hiervan nie.

“Ons is baie in ons noppies. Hy het hard gewerk om hier te kom. Hy het ’n paar uitdagings gehad. Sy ma het onlangs afgesterf. Dit sê baie van sy karakter dat hy in daai tyd nog ingekom en oefeninge bygewoon het.

“Hy het ’n sterk persoonlikheid en great storie: Hy kom van Oudtshoorn. Toe het hy PE toe verhuis om sy loopbaan verder te vat.

Teenwoordigheid

“Nou bevind hy hom in die Proteas-opset, wat ’n goeie storie is, veral vir mense van klein dorpies soos Oudtshoorn en ander landelike gebiede.

“Dit wys dié areas en nie-tradisionele areas bring ook talent na vore. Miskien is dit iets waarna ons moet kyk sodat Krieket Suid-Afrika ’n sterker teenwoordigheid in dié areas kan hê.

“Ons wens hom sterkte toe. Al is ons jammer ons verloor hom, kry Suid-Afrika ’n juweel.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters