7 dae gelede
Hamza vervang as Cobra-kaptein
Zubayr Hamza  ~ Gallo Images

DIE Cape Cobras spog met ’n nuwe kaptein vir hul deelname aan Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaagreeks.

Die Cobras se groep is gister bekend gemaak vir dié kompetisie wat vanaf môre­ in die Kingsmead-stadion in Durban in ’n bio­veilige omgewing sal plaasvind.

Tony de Zorzi is as kaptein aangewys in die plek van Zubayr Hamza, wat  tans ’n lopiedroogte beleef.

’n Mens kan dus aanvaar dat Ashwell Prince­, Cobra-hoofafrigter, Hamza van die leierskap-las wil verlig in die hoop dat hy sy beste kolfpeil sal help herwin.

De Zorzi is ’n voormalige SA o. 19-kaptein. Dis waarskynlik vir Hamza ’n bedekte seën dat hy hom nou net op sy kolfwerk kan toespits.

Die terugkeer van inter­nasionale diens deur Janneman Malan, Kyle Ver­reynne, George­ Linde en Nandré Burger kan vir Prince soos manna uit die hemel wees.

Dié voormalige Protea-middelordekolwer se span vaar nie te waffers nie en hulle sal gewis die reeks wil wen. 

Maklik gaan dit egter beslis nie wees nie.Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Keshav Maharaj en Lungi Ngidi, om net ’n paar te noem, speel almal vir hul franchises in dié reeks.

Prince sal egter staatmaak op sy nasionale spelers asook nuwe opwindende spelers soos die Bolandse paaltjiewagter Hlomla Hanabe en die Laeveldse bybreekbouler Siyabonga Mahima, wat albei sal hoop om kans in die reeks te kry. 

’n Ander geelwortel vir spelers is die feit dat die reeks in lande soos Indië en Australië uitgesaai sal word.

Goeie vertonings deur spelers in die reeks kan bes moontlik die aandag van Indiese Premierliga- en Big Bash League-spanne trek.

Cape Cobras: Tony de Zorzi (k), Calvin Savage, Christiaan Jonker, Corbin Bosch, George Linde, Hlomla Hanabe, Imraan Manack­, Janneman Malan, Jason­ Smith, Kyle Verreynne, Nandré Burger, Onke Nyaku, Siyabonga Mahima, Tshepo Moreki­, Ziyaad Abrahams, Zubayr Hamza.


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters