14 dae gelede
Hamza sal hopelik help
luister mooi: Die hulpafrigter Vincent Barnes gesels met die Proteas. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Kapenaar Zubayr Hamza kan Theunis de Bruyn in die Proteas se kolf-aanval in die tweede toets vervang.

Die Proteas se afrigtingspan is hard besig om planne te maak om die reeks teen Indië te red.

Suid-Afrika het die eerste toets met 203 lopies verloor, maar dit blyk die hoofafrigter, Enoch Nkwe, gaan nie veel torring nie aan die span vir die toets wat Donderdag in Pune begin.

Nkwe het reeds aangedui dat daar na sy mening geen rede tot kommer is om grootskaalse veranderinge aan te bring nie.

De Bruyn, wat Dinsdag sy 27ste verjaardag gevier het, het tot dusver in twee beurte net 14 lopies aangeteken.

Hy het al 10 toetse agter sy naam.

So ook pla die peil van Temba Bavuma, wat eweneens sukkel om aan die gang te kom. Bavuma het in sy twee keer voor die penne geen lopies aangeteken nie.

Dit bring Hamza in die prentjie om sy tweede toets te kan speel, asook om die Indiese draaibalboulers te kan ervaar.

Hamza het in Januarie sy debuut vir die Proteas op die Wanderers teen Pakistan­ gemaak.

Nkwe en sy mede-keurders het ook maar baie min beweegruimte, veral omdat hulle verwag dat die toestande die draaiers weer gaan bevoordeel.

Die breier glo sy span sal baie beter vertoon, aangesien die manne in die eerste toets sekere van die sessies beheer het.

Dean Elgar met sy uithaler-vertoning van 160 lopies en Quinton de Kock se 111 lopies in die eerste beurt is van die positiewe aspekte waarna Nkwe verwys het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters