3 jaar gelede
Habana teken tot einde 2017 by Franse klub
bly langer: Bryan Habana pronk in sy Toulon-outfit. Foto: gallo images  ~ 

DIE kanse dat Bryan Habana ooit weer vir ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan sal speel, is skraal nadat die Springbok-vleuel besluit het om nóg ’n jaar in Frankryk klubrugby te speel.

Habana het sy verblyf by die Europese kampioen, Toulon, met nóg ’n jaar (tot 2017) verleng.

Die 32-jarige vleuel het die nuus van die verlenging van sy kontrak met sy followers op Twitter gedeel.

“Ek sien uit daarna om die klub te help om nog meer suksesvol te word,” het Habana getwiet.

In sy eerste twee seisoene by Toulon het hy twee agtereenvolgende Europese titels gewen en die Franse Top14-titel in 2014.

Habana spog met verskeie titels agter sy naam. Hy het die Bulls gehelp om twee Superrubgy-titels te wen en ook ’n hele paar Curriebekers.

In vanjaar se Wêreldbeker-toernooi het Habana gelyk getrek met die Nieu-Seelander Jonah Lomu se rekord vir die meeste drieë (15).

Daar was verwag dat Habana ná volgende seisoen sou probeer om nog ’n seisoen se rugby in Suid-Afrika te kom speel.

Dit sou waarskynlik by die Stormers gewees het.

Dis die enigste span waar hy nie sukses in Superrugby kon verseker nie.

Hy het in 2010 baie naby aan sukses gekom, net vir sy voormalige span, die Bulls, om weer met die louere weg te stap.

Die droom van ’n Olimpiese goue medalje in sewesrugby blyk ook buite bereik vir die Springbok-vleuel te wees.

Ander Toulon-spelers wat hul kontrakte verleng het, is die Suid-Afrikaner Matt Stevens, Romain Taofifénua en Xavier Chiocci. – Rugby365/AFP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters