13 dae gelede
Groot talent skitter
LANGASEM: Roxy Davids op pad na haar gemaklike oorwinning in die 800 m.  ~ Mark Ward

DIE Hoërskool Mondale in Mitchells Plain behoort die eerste semi’s in die Champs of Champs-atletiekreeks van die Westelike Provinsie Saterdag op Vygieskraal te oorheers.

Dit volg nadat die atletiekspan van dié spogskool Dinsdag in die Green Point Stadium die A-afdeling oorheers het.

Mondale het ’n allemintige 556 punte ingesamel. Dis ’n duidelike aanduiding van sy oorheersing in dié groep, wat nege skole insluit.

Uitgeblink

Wynberg Girls & Boys het in die tweede plek geëindig met 341 punte.

Onder die atlete wat vir Mondale uitgeblink het, is die 15-jarige Suhail Galant, wat in die hoogspring gemaklik op ’n hoogte van 1,80 m oor die dwarslat geseil het.

Galant behoort Saterdag weer ’n uithaler-vertoning te kan lewer.

Dan was daar skitterende vertonings van die lenige Roxy Davids van South Peninsula in die 800 m vir meisies o. 19. Sy het met ’n groot gaping van 30 m tussen haar en die atleet in die tweede plek gewen.

Davids het reeds by die 150 m-merk soos blits weggebreek.

Sy’s beslis ’n talentvolle atleet om dop te hou.

Fish Hoek, die reëling­skool vir dié afdeling, het in die sesde plek klaargemaak met 211 punte.

  • Die finale posisies en puntestand is:

1. Mondale (556), 2. Wynberg Girls & Boys (341), 3. Heathfield (317), 4. South Peninsula (312), 5. Zeekoevlei (232), 6. Fish Hoek (211), Plumstead (189), 7. Herschel Girls (37), 8. Springfield (32).

SWEEF: Mondale se Jaden Solomons vlieg met gemak oor die hekkies in die 400 m-wedloop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters