3 maande gelede
Groot taak wag op Bafana
Lucas RadebeFoto: Mark Ward  ~ 

DAAR rus ’n reuse-verantwoordelikheid op die Bafana Bafana-sokkerspan wat aan vanjaar se Afrikabeker-toernooi (Afcon) in Egipte deelneem.

Dié toernooi begin op 21 Junie.

Lucas Radebe, oudkaptein van Suid-Afrika en lid van die 1996-span wat die titel op tuisbodem gewen het, sê die hoofbreier, Stuart­ Baxter, se span het ’n kans om die koers van Suid-Afrikaanse sokker te verander.

Radebe het in Johannesburg met Son gesels by ’n life skills-kliniek vir uitge­trede spelers wat sukkel om werk in die gewone same­lewing te kry of hulle vaardighede vir werksgeleenthede binne die sokkerkode wil verbeter.

Bafana Bafana het Tunisië in 1996 onder die kapteinskap van Neil Tovey met 2-0 geklop om die Afcon-titel te wen. Mark Williams het albei doele aangeteken.

In ’n openhartige gesprek het Radebe egter gewaarsku om nie 1996 se helde met die span van 2019 te probeer vergelyk nie.

“Die 2019-span moet ’n impak maak om die koers van Suid-Afrikaanse sokker te verander,” meen Radebe.

Gunstige

“Ons sukses het ’n impak op die Suid-Afrikaanse samelewing gemaak, veral oor dit so kort ná die inhuldiging van Nelson Mandela as ons president was.

“Deur dit te sê, bedoel ek die 2019-span het ook die vermoë om die toernooi te wen.

“Ons sal in ’n gunstige posisie wees om dan op die Wêreldbeker te fokus. Sukses bring sukses.

“As daar gekyk word na die kaliber van die 2019-spelers en die manier waarop hulle vir die toernooi gekwalifiseer het, het hulle ’n kans.”

Suid-Afrika sal sake met Namibië, die Ivoorkus en Marokko in groep D uitspook.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters