13 dae gelede
Groot stryd wag op CPUT en WSU
Hugan Engelbrecht  ~ Varsity Cup

DIE high-flying rugbyspan van CPUT, oftewel die Tekkies, kom voor sy strafste toets tot nog toe in vanjaar se Varsity Shield-kompetisie te staan.

Dit is wanneer hy die Walter Sisulu-Universiteit (WSU All Blacks) vanaand 19:00 aandurf.

Die Tekkies, wat ook die verdedigende kampioen is, gee tans die pas aan in die kompetisie. Die All Blacks is tweede op die punteleer.

Albei spanne het tot dusver volpunte in die reeks behaal met die Kapenaars wat 25 punte uit hul vyf wedstryde tot dusver ingesamel het. Die manne van Mthatha het 20 punte, maar het tot dusver nog net vier wedstryde gespeel.

Skrumwerk is tot dusver die Tekkies se Achilleshiel, maar geen span kon tot nou toe antwoord op hul aanvalsvermoëns nie.

Alastair Theys, die span se hoofafrigter, kan steun op topklas-hulpafrigters soos Jerome Paarwater (voorspelers) en Jongi Nokwe (agterspelers).

Stabiliteit

Dé-Angelo Williams (stut), Ameer Hendricks, Anenceba Salman (slotte) en die kaptein, Butsha Mputa (flank), se ervaring is goud werd vir die Tekkies.

Hulle sal moet hard werk om stabiliteit in hul skrums te bewerkstellig.

Hugan Engelbrecht, wat volgens varsitycup.co.za net 60 kg weeg en 1,65 m in sy sokkies staan, se flink diens en besluitneming in die skrumskakel-posisie was tot dusver een van die Tekkies se grootste bates.

’n Oorwinning vanaand sal die wenspan ’n groot sielkundige voorsprong besorg omdat dié spanne mekaar waarskynlik weer in die eindstryd sal pak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters