15 dae gelede
Groot klubseges
soek gaping: Lewellyn Pietersen van Progress val aan teen die Gelvan Wallabies. Foto: theo jeptha  ~ 

TWEE vyftigtalle en byna ’n honderdtal.

Nee, dit is nie ’n Wêreld­beker-krieketwedstryd nie, maar wel van Saterdag se groot rugbytellings in die Oostelike Provinsie se opwindende Superliga.

Dit is hoegenaamd geen verrassing nie dat Progress die span is wat byna honderd punte opgestapel het.

Progress is die enigste onoorwonne span in die Superliga en was op sy tuisveld in Uitenhage veels te sterk vir die Gelvan Wallabies.

Die eindtelling was 91-3.

Nog ’n span van Uitenhage, Gardens, was een van die twee spanne wat ’n vyftigtal gehaal het.

Gardens het Missionvale met 56-15 in ’n baie goeie vertoning geklop.

Oorgehaal

Die Madibaz, wat teen Spring Roses gespeel het, was die ander span wat meer as vyftig punte aangeteken het.

Die Studente was oorgehaal om die krane oop te draai ná die vorige naweek se nederlaag teen Kruisfontein.

Spring Roses moes dit toe ongelukkig ontgeld. Die Madibaz het met 53-12 gewen.

Kruisfontein het sy goeie vertonings voortgesit. Hy moes egter hard werk om in sy wegwedstryd vir Jeffreysbaai met 22-10 te troef.

Daar was drie baie mededingende wedstryde waarin enige van die spanne kon gewen het.

Suburban (teen Polisie), Aberdeen (teen Brumbies) en Born Fighters (teen Trying Stars) was egter naelskraap aan die wenkant.

Die uitslae is:

Kruisfontein 22, Jeffreysbaai 10; Gardens 56, Missionvale 15; Madibaz 53, Spring Roses 12; Star of Hope 29, Windvogel 5; Suburban 19, PE Polisie 18; African Bombers 33, Despatch 20; Aberdeen 31, Brumbies 28; Progress 91, Gelvan Wallabies 3; Born Fighters 24, Trying Stars 22; United Barbarians 16, Hankey 10.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters