Verlede maand
Groot kans vir jonges
Kagiso Rabada  ~ Gallo Images

DIE Proteas kom môre op SuperSport-park in die derde en beslissende ODI teen Pakistan te staan – sonder hul vyf beste witbal-spelers.

Kagiso Rabada, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Quinton de Kock is almal op pad na die Indiese Premierliga (IPL). Temba Bavuma, die span se nuwe kaptein, sal dus sonder sy staatmakers moet klaarkom.

Toevertrou

Die reeks is met 1-1 gelyk nadat Suid-Afrika Sondag die pienk ODI met 17 lopies gewen het. Janneman Malan kan na verwagting De Kock se plek as aanvangskolwer inneem, met Kyle Verreynne wat waarskynlik Miller se plek in die middelorde sal inneem.

Die paaltjiewagterhandskoene sal dan aan Verreynne of Heinrich Klaasen toevertrou word.

Wie Rabada, Ngidi en Nortjé gaan vervang, bly egter ’n ope vraag. Beuran Hendricks, Lutho Sipamla, Junior Dala, Daryn Dupavillon en die groentjie-naatboulers Lizaad Williams en Sisanda Magala is almal in die groep. Hulle brand seker om te speel.

Die veelsydige Jon-Jon Smuts en Wiaan Mulder kan ook oorweeg word, terwyl Keshav Maharaj ook sal wil toon dat hy nie net as ’n toetsbouler beskou wil word nie.

Met die reeks op die spel sal Mark Boucher (hoofafrigter) en kie waarskynlik nie gretig wees om Williams of Magala ’n debuut te gee nie. Dié duo kan bes moontlik eerder in die T20-reeks, wat Sondag op die Wanderers begin, kans kry om hul eerste proesel van internasionale krieket te kry.

Hendricks en Sipamla, en een van Dala en Dupavillon, sal dus voel dat hulle ’n baie goeie kans staan om die groen lig te kry vir die beslissende ODI.

DIE PROTEA-SPAN:

Temba Bavuma (kaptein), Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Jon-Jon Smuts, Rassie van der Dussen, Junior Dala, Lutho Sipamla, Wiaan Mulder, Sisanda Magala, Kyle Verreynne, Daryn Dupavillon, Lizaad Williams.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters